Worcester Villagers (Villa), het Saterdag (26 Augustus) op Bolandpark in Worcester opnuut bewys dat as hy die dag op al sy silinders vuur, hy enige span teen wie hy kompeteer met die kous oor die kop kan huis toe stuur.
Dit het hy weer onderskryf toe hy die Proteas van De Doorns in ’n opwindende wedstryd met 43-27 getroef het, nadat hy teen rustyd reeds met 29-10 voor was en ’n bonuspunt vir vier drieë ingeryg het.
Die wedstryd het op ’n hoogtepunt vir die tuisspan begin toe Cubitt Micheals (linkervleuel) sommer vanaf die afskop met skitterende en flinke voetwerk verskeie opponente in die lug laat gryp het. Toe hy treë van die lyn voorgekeer word, was die feitlik alomteenwoordige skrumskakel, Romeo Eksteen, by om onder die pale af te rond. Met die doelskop ’n blote formaliteit deur die losskakel, Girshwin Joubert, loop Villa binne die eerste paar minute met 7-0 voor.
Nou behoorlik wakker geskud, begin die Protea’s met verskeie aanslae wat uiteindelik op ’n strafskop uitloop wat die regtervleuel, Jonathan Jordaan, oorklits om die agterstand na 7-3 te verklein.
Villa kry egter weer punte toe die agsteman, Edward Haas, met brute krag oorbars vir ’n drie wat Joubert nie kon verdoel nie. Die span kry egter wel weer punte toe Joubert kort daarna met ’n strafskop sukses behaal.
Villa pas nou geweldige druk toe en word beloon met nog ’n drie toe Micheals oorgaan en die binnesenter, Jarian de Klerk, verdoel om die telling na 22-3 te rek.
Hoewel die Protea’s terugslaan met ’n drie deur Tyrone Snygans (slot) wat ook deur Jordaan verdoel word, behoort die laaste drie voor rustyd weer aan Villa toe Eushaan van der Merwe (regtervleuel) ’n bal wat los spat, opraap en regdeur hardloop om onder die pale te gaan kuier. De Klerk se suksesvolle doelskop bring die telling teen halftyd op 29-10 te staan, met Villa wat reeds ’n bonusdrie verseker het.
Kort ná rustyd kry Protea’s weer punte toe Snygans se tweelingbroer en slotmaat oorgaan vir ’n drie wat Jordaan ook verdoel. Die Proteas val nou met mening aan. In die proses gaan die bal egter verlore en Micheals raap dit op en gaan kuier vir sy tweede drie onder die pale. Met De Klerk se geslaagde doelskop rek die voorsprong na 36-17.
Kort hierna gaan Protea’s se losskakel, Santino Ranchod, vir Proteas oor vir ’n onvervyfde drie.
Proteas kry wel weer punte toe die plaasvervanger-stut, Allister van Wyk, oorgaan vir ’n drie wat ook nie verdoel kon word nie.
Dit is egter Villa wat die laaste lag toe Chris Daniels (plaasvervanger-skrumskakel) met ’n slim stukkie individualisme oorgaan vir ’n drie wat Joubert verdoel vir ’n welverdiende 43-27 oorwinning.





