Die Villas skrumskakel, Gurshwin Africa, probeer een van die Snygans-tweeling, Tyrone, afskud in Saterdag se strydf op Boland-park teen die Proteas. Foto: Stephan Neethling


Worcester Villagers, of Villa, soos rugbyentoesiaste die klub noem, het Saterdag (27 April) seker gemaak hy bly op koers om sy Top-12-drome lewendig te hou deur sy bure Proteas, of Prouks, soos hulle bekend staan, op Bolandpark met 35-10 te verslaan nadat Villa teen rustyd reeds 18-5 voorgeloop het.

Prouks het in die hoofwedstryd veral met groot vurigheid begin en sommer behoorlik sy stempel op die wedstryd probeer afdruk.

Dit was egter die tuisspan wat eerste bloed geruik het toe sy losskakel, Austin Hendricks, met ’n netjiese strafskop die kol vind.

Die Proteas het kort hierna met skitterende hand-tot-hand-bewegings gewys wat in hulle steek toe die veteraan-losskakel Santino Ranchod oorgaan vir ’n drie wat sy buitesenter, Berto de Vlam, ongelukkig nie kon verdoel nie.

Villa slaan byna onmiddellik terug toe sy woelwater-haker en mede-kaptein Johannes Geldenhuys ná ’n praglopie meters van sy teenstanders se doellyn af met skitterende dekverdediging gestuit word. Villa pas egter genadeloos druk toe en word beloon met ’n drie reg in die hoekie deur sy heelagter en oud-Prouksspeler, Jonathan Jordaan. Hendricks se doelskop trek net-net links verby.

Die einste Hendricks slaag egter kort daarna met ’n strafskop om die telling na 11-5 in die tuisspan se guns te swaai. Kort voor rustyd groei die telling na 18-5 toe die regtervleuel, Kevin Philander, ná skitterende samespel deur voor- en agterspelers gaan druk en Hendricks met die doelskop slaag.

Die tweede helfte het skaars begin toe Prouks weer bloed ruik toe sy slot Givan Erasmus oorgaan vir ’n onvervyfde drie.

Villa neem egter nou beheer oor en met albei spanne wat nou lustig vars bene opstuur, is dit juis een van Villa se plaasvervanger-stutte, Emile Noble, wat met brute krag oorbars vir ’n drie wat die skrumskakel, Gurswin Joubert, wat intussen na losskakel verskuif het, ongelukkig nie kon verdoel nie.

Kort hierna kry Villa sy vierde en bonuspunt-drie toe Jordaan oorsuiker vir sy tweede drie, wat Joubert wel verdoel. Hy gaan kort hierna vir sy “derde” drie oor, maar ongelukkig word hy teruggeroep vir ’n vorentoe-aangee.

Villa kry wel weer punte toe dy linkervleuel, Cubbit Micheals, kort voor die einde oorgaan vir nog ’n onvervyfde drie om die eindtelling op 35-10 te staan te bring.. In ’n eensydige hoofvoorwedstryd klop Villa se naasbestes Proteas B met 31-3 en druk self ook vyf drieë vir sy ekstra bonuspunt terwyl Villa se derde span in die eerste wedstryd van die dag Prouks se derdes met 58-0 kafdraf en met hul 10 drieë ook seker maak van hul ekstra bonuspunt.

Saterdag (4 Mei) speel Villa weer tuis op Bolandpark wanneer hy Swellendam die stryd gaan aansê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article