Die “verbod” op die oprigting van nog informele strukture sal sekerlik vanuit verskeie oorde verwelkom word.
Die landbousektor en munisipaliteite landwyd is al vir baie jare lank opgesaal met die probleem van informele nedersettings wat soos sampioene op enige stukkie beskikbare grond opskiet.
Daar word wel vanuit ’n simpatieke oog gekyk na die nood van haweloses of werksoekers wat aanleiding gee tot hierdie nedersettings. Maar dit mag nie as vanselfsprekend aanvaar word dat almal net mag doen net wat hulle wil nie.
Informele nedersettings bring ook reuse-implikasies vir die gemeenskap. Dikwels word hulle gebou in gevaarsones – soos bewys tydens Junie se oorstromings toe ’n nedersetting by Rawsonville byna weggespoel het. Dit hou dus groot veiligheids- en gesondheidsrisiko’s vir die gemeenskap in.
Ongelukkig bring hierdie nedersettings dikwels saam met hulle ongewenste en misdadige elemente, ook vir die gevestigde woongebied om hulle.
Die Wes-Kaap is ekonomies die welvarendste provinsie, met ’n laer werkloosheidsyfer as die res van die land. Dit lei dan ook tot ’n stormloop van mense hierheen van die res van die land, op soek na groener weivelde.
Maar teen watter koste kom dit vir die plaaslike gemeenskappe?



