Die moordenaar van ‘n 15-jarige seun is lewenslange tronstraf opgelê.

Tiener (15) van Avianpark se moordenaar lewenslank tronk toe gestuur


Ná sowat drie jaar het geregtigheid uiteindelik vir die 15-jarige Educaine Dantun Brown van Avianpark in Worcester geskied toe sy moordenaar, die 26-jarige Jobin Andrews, die afgelope week in die Worcester-streekhof lewenslank tronk toe gestuur is.

Cornelius Prinsloo, waarnemende streekhofaanklaer, het suksesvol geargumenteer dat Educaine en ander getuies op 6 Desember 2023, die dag van die noodlottige voorval, om ‘n vuur op ‘n perseel in Kalkoenstraat in Avianpark gesit het.

Volgens hom het Andrews die groep genader en vier skote op hulle afgevuur. Educaine het op die toneel in die koeëlreën gesterf. Andrews is later dieselfde dag in hegtenis geneem nadat getuies, wat ten tyde van die skietery op die toneel was, hom uitgeken het as die skieter.

Andrews het erken dat hy op die dag van die skietvoorval saam met ‘n vriend gestap wat hom meegedeel het dat Educain deel was van ‘n groep wat een van sy vriende vroeër aangerand het.

Die veroordeelde kindermoordenaar het toe ‘n 9mm-vuurwapen by die betrokke vriend geneem, Educaine genader en op hom losgebrand. Andrews het na die voorval van die toneel af weggehardloop en van die vuurwapen ontslae geraak.

Prinsloo het ter verswaring van vonnis geargumenteer dat die gemeenskap van Avianpark beskerming verdien teen mense soos Andrews.

Hy het die hoë vlakke van misdaad wat die gemeenskap affekteer uitgelig.

Prinsloo het aangevoer dat die gevoellose moord op ‘n kind vereis dat die vonnisoplegging se doelwitte van vergelding en afskrikking voorrang moet geniet bo Andrews se persoonlike omstandighede.

Hy het verder aangevoer dat Andrews nie opregte berou toon nie en dat die versagtende faktore wat aan die hof voorgehou is, nie gesamentlik neerkom op wesenlike en dwingende omstandighede wat ‘n afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis regverdig nie.

Landdros Clifton Maseti het Andrews gevolglik lewenslange tronkstraf opgelê op die moordklag en vyf jaar direkte tronkstraf vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen. Die hof het gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien word.

Maseti het met vonnisoplegging gesê Andrews se optrede is tekenend van ‘n duidelike minagting vir die wet en menselewens.

Die landdros het die erns van die oortredings beklemtoon en bevind dat die belange van die gemeenskap verreweg swaarder weeg as die persoonlike omstandighede van Andrews.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article