Mense gis wyd oor die presiese omstandighede wat tot die skorsing van Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid en DA-leier in die Wes-Kaap, gelei het.

Dit blyk nóg amptenare is ook geskors weens omstandighede wat met die ondersoek teen Fritz verband hou.

Drie van die amptenare wat saam met Fritz geskors is, is Wade Seale, Fritz se woordvoerder; David Abrahams, die hoof van die ministerie van gemeenskapsveiligheid; en Michael Kwaaiman, ondersteuningsbeampte.

Nog ’n amptenaar, Laazola Ndubela, is ook geskors.

Dit volg blykbaar te midde van ernstige bewerings van seksuele wangedrag.

Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het Dinsdag in ’n verklaring gesê hy is in November verlede jaar die eerste keer van die bewerings bewus gemaak.

“Ek het onmiddellik beëdigde verklarings van die mense wat regstreeks betrokke is, aangevra sodat ek kon optree. Sedert daardie datum het ek verseker dat die klaers behoorlike sorg en empatie betoon word en dat geen druk weens die aard van die klagtes op hulle geplaas is nie,” sê Winde.

News24 het onthul die slagoffers doen bewerings van dade van [sexual] grooming en bedwelming voordat hulle na bewering seksueel misbruik is.

Anroux Marais, LUR vir kultuursake en sport, is aangestel om as LUR vir gemeenskapsveiligheid op te tree.

Fritz het as die party se tussentydse leier in die provinsie oorgeneem ná die bedanking van Bonginkosi Madikizela verlede jaar.

Madikizela het bedank nadat dit aan die lig gekom het dat hy valslik op sy CV beweer het dat hy ’n BComm-graad het.

Pat Lekker, die ANC-hoofsweep in die Wes-Kaapse wetgewer, het in ’n verklaring gesê die DA het ’n toesmeerdery begin om die bewerings teen Fritz uit die openbare oog en “weg van ’n ondersoek” te hou.

“Dit is onaanvaarbaar. Dit ontbloot die DA se dubbele standaarde en strategie om te verdoesel wat Albert Fritz na bewering gedoen het,” het Lekker gesê.

“Ons het dus geen keuse nie as om die Nasionale Raad van Provinsies te vra om Winde te dagvaar om ’n volledige verduideliking onder eed te gee van wat Fritz na bewering gedoen het en hoe lank hy al van die bewerings weet.

Reagen Allen, provinsiale DA-woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, het die ANC daarvan beskuldig dat hy Fritz se skorsing in ’n “sirkus” verander het.

“Eerder as om die versoek om vertroulikheid van fluitjieblasers te respekteer, het die ANC ten spyte van die feit dat die ondersoek steeds aan die gang is, versoek dat die saak op ’n nasionale platform in die Nasionale Raad van Provinsies uitgespeel word – al is dit nie sy mandaat nie,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article