Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het Woensdag 26 Julie uiteindelik self die memorandum van omstrede ouers van Hexvallei Sekondêre Skool leerders ontvang.

Die skoolgemeenskap het vroeër voor die skool betoog omdat hulle ongelukkig is met die manier waarop die skoolhoof dinge by die skool, asook die skool se finansies, bestuur.

Pat Januarie, wat op die skool se beheerliggaam dien, het geweier om die memorandum aan die distrikskantoor te oorhandig toe hy Dinsdag 18 Julie tesame met ander ouers voor die skool vir die verwydering van die huidige skoolhoof betoog het.

Januarie het in die berig Ouers betoog voor hoërskool, wat op Donderdag 20 Julie gepubliseer is, gesê “daar is tans verskeie sake teen die hoof vir wanbestuur van die skool en die skool se finansies”.

Volgens Januarie het hulle aanvanklik die WKOD sewe dae gegee om op die memorandum te reageer.

“Maar hulle het toe vir ’n uitstel gevra. Ongelukkig was daar nie gesê hoe lank die uitstel gaan wees nie, so ons wag nou nog om weer van hulle te hoor.”

In die memorandum het hulle ook kommer oor leerder-dissipline en veiligheid en bewerings rakende die rolle en verantwoordelikhede van die beheerraad uitgespreek.

Die WKOD het bevestig hulle het die memorandum in hul besit en dat hulle daardeur werk.

“Hulle het geëis dat die beheerliggaam onmiddellik ontbind word en dat die skoolhoof geskors of met verlof geplaas word terwyl die bewerings ondersoek word. Die WKOD sal al die nuwe bewerings ondersoek. Sommige bewerings is voorheen geopper en aangespreek,” het Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article