Albert Fritz, die LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het uit sy posisie as partyleier in die provinsie bedank – dít nadat hy 24 uur gegun is om die DA van redes te voorsien waarom hy nie uit die party se aktiwiteite geskors moet word nie.

Jaco Londt, die DA se Wes-Kaapse provinsiale voorsitter, sê die DA in die Wes-Kaap neem kennis van die bedanking van Albert Fritz as provinsiale leier en as lid van die party.

“Dit beteken dat die provinsiale leiersposisie vakant is en op die volgende raadsvergadering gevul sal word. Die volgende raadsvergadering word vir Mei beplan.”

Die onderleier, Tertuis Simmers, sal tot die verkiesing as leier waarneem.

Londt sê meer inligting oor die verkiesing sal bekend gemaak word sodra ’n voorsittende beampte aangestel is.

Helen Zille, die DA- federale raadsvoorsitter, het in ’n kort verklaring, wat Dinsdag vrygestel is, gesê die party se federale uitvoerende bestuur het besluit om teen Fritz op te tree.

Bewerings van seksuele wangedrag het die afgelope maand oor Fritz gehang.

Adv. Jennifer Williams is as hoof van ’n onafhanklike ondersoek na die bewerings teen Fritz aangestel.

Fritz, sy woordvoerder, Wade Seale, sowel as David Abrahams (die hoof van die ministerie van gemeenskapsveiligheid), Michael Kwaaiman (ondersteuningsbeampte) en nog ’n amptenaar, Lazola Ndubela, is almal geskors hangende die ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article