Talle mense is verheug oor Lesotho se uitlewering van nog drie verdagtes wat in 2019 na bewering by die moord op Tool Wessels en die marteling van sy vrou betrokke was.
Jurie (Tool) Wessels en sy vrou, Liezel, is Maandag 13 Mei 2019 deur vier verdagtes op hul plaas aangeval. Tool is doodgeskiet, maar sy vrou het daarin geslaag om na ’n buurplaas te ry om hulp te ontbied.
Moeketsi Hlaudi, Kekekso Ntsabisa en Thabiso Ramollo, al drie van Lesotho, het verlede Woensdag in die hof in Bonnievale verskyn. Die vierde verdagte, Ntabanyane Tlali, is reeds in 2019 in hegtenis geneem.
“Die staatsaanklaer, advokaat Megan Blows, het die hof ingelig dat die drie beskuldigdes teregstaan op aanklagte van moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie,” het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se woordvoerder, Eric Ntabazalila, in ’n persverklaring gesê.
Die verdagtes was al drie seisoenwerkers op die plaas.
“Die beskuldigdes, wat seisoenale werk op die oorledene se plaas verrig het, het hul kennis van die plaas gebruik en het beplan om die plaaseienaar en sy vrou aan te val. Hulle het Wessels en sy vrou gemartel deur hulle te steek, te slaan en met kookwater te gooi.”
Die saak is tot gister (3 Augustus) uitgestel sodat die beskuldigdes die hof kon inlig of hulle van plan is om vir borgtog aansoek te doen. Die uitslag hiervan was teen Standard se druktyd nog nie bekend nie.
Die NVG het wel aangedui hy gaan enige aansoek om borgtog heftig teenstaan.
Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het ook die uitlewering verwelkom.
“Dit is goeie nuus. Maar, soos ek aangedui het, is ’n aanval op ’n boer ’n aanval op ons landelike ekonomie. Daarom, indien nodig, bied ek my ondersteuning om enige aansoek deur die verdagtes teen te staan,” het Meyer in ’n verklaring, wat verlede week uitgereik is, gesê.
Hy het ook gesê die Wes-Kaap doen sy bes om die provinsie veiliger te maak.
“Ons ingrypings moet egter ondersteun word deur ’n sterk en professionele polisiediens en ’n doeltreffende strafregstelsel. Ek bedank die ondersoekspan vir die toewyding wat tot dusver getoon is en sien nou uit na die aanklaerspan om meedoënloos op te tree in die nastrewing van die waarheid.”
Reagen Allen, die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, het ook sy blydskap oor die uitlewering in ’n verklaring meegedeel.
“Dit is inderdaad welkome nuus. Ek prys die betrokke wetstoepassers en regslui wat verseker het dat diegene wat na bewering hierdie misdaad gepleeg het, aanspreeklik gehou kan word. (Dit) maak nie saak waar dit voorkom of teen wie dit gepleeg word nie – misdaad is nie welkom in ons gemeenskappe nie. Dit wys ook dat misdadigers nêrens sal hê om weg te kruip nie, aangesien die lang arm van die gereg hulle sal inhaal. Ons moet nie ophou om die lewe van misdadigers binne die grense van die wet ongemaklik te maak nie,” sê hy. Verder sê hy die plaaslike regering sal aanhou werk om plaasgemeenskappe veilig te hou.
Die uitlewering van die drie verdagtes was ’n gesamentlike onderneming deur die NVG, Interpol, die SAPD en die Departement Korrektiewe Dienste.




