Die voorlopige begroting van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) is op Dinsdag 25 Maart goedgekeur en inwoners het die geleentheid om tot Vrydag 25 April hierop kommentaar te lewer. Die finale goedkeuring sal in Mei volg.

Munisipale inwoners kan moontlik die volgende verhogings in tariewe verwag: elektrisiteit 15% (afhangende van goedkeuring deur Nersa), die basiese watertarief styg met 11% met die verbruik wat op ‘n glyskaal bereken word, vullisverwydering is 25% hoër en sanitasie sal met 8% styg.

Die groot styging in die koste van vullisverwydering, sê Chad Malgas, woordvoerder van die BVM, is omdat die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit besig is om ‘n streekstortingsterrein in Worcester te skep. Hierdie fasiliteit sal die Breedevallei-, Witzenberg- en Langeberg-munisipaliteite bedien. Die munisipaliteite moet die stortingsterrein gedeeltelik help finansier.

“Ons besef dat die styging nog finansiële druk op inwoners sal plaas. Ons onderhandel met die KWDM om die kostes te verlig,” sê hy.

Die salarisrekening verteenwoordig sowat 26% van die begroting – in lyn met die nasionale tesourie se riglyn van tussen 25% en 40%.

Om te illustreer wat die effek van die verhogings op byvoorbeeld ‘n medium- grootte huishouding sal wees, het die munisipaliteit die volgende voorbeeld gegee.

Munisipale tariewe styg van R793,63 tot R857,12. Dit is ‘n verhoging van R63,49.

Vir die gebruik van 750 Kwh elektrisiteit het dié huishouding in die 2024-’25-jaar R2 400,60 betaal en sal van 1 Julie R2 772,46 betaal, ‘n styging van R371,85. Vir 20 kl-water het dié huishouding R159,58 betaal, en dit styg tot R214,45. Dit is R54,87 meer. Die basiese watertarief styg met R9,00 van R63 na R72. Die tarief vir sanitasie styg van R427 met R38 na R465. Vullisverwydering styg van R268,23 na R336, wat die huishouding R67,58 meer uit die sak jaag.

Die begroting is beskikbaar by die munisipaliteit se kantore, op sy webwerf en by die biblioteek.

Van die sleutelprojekte wat die BVM wil aanpak, sluit in die opgradering van grondpaaie (R39,2 miljoen), belegging in verskeie projekte vir die elektriese infrastruktuur (R20,8 m), die Transhex elektriese netvorming (R19,4 m), verkryging van ‘n gespesialiseerde en diensleweringsvloot, (R16,6 m), aanpassing van die Touwsrivier-watersuiweringswerke (R11 m), ontwikkeling van stortingsterreine in die Uitvlucht industriële park (R11 m), aanpassing van Stettynskloofdamwal (R10 m), opgradering van die munisipale rioolnetwerk en gekraakte pype (R10 m), opgradering van munisipale huureenhede (R9,6 m) en belegging in wyks- prioriteite (R6,2m).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article