Seun (14) sterf in fratsongeluk by matriekafskeid toe hy onder vragmotor beland.

Wyle Fredrico Konstabel se gesin is van links Carlton Konstabel (broer), Yvette Konstabel (suster), Cherla Konstabel, Frederick Mienies (pa) en Daneilli Rossouw (suster). Foto: Enrico Claassen

Seun (14) sterf in fratsongeluk by matriekafskeid toe hy onder vragmotor beland.

Wyle Fredrico Konstabel se gesin is van links Carlton Konstabel (broer), Yvette Konstabel (suster), Cherla Konstabel, Frederick Mienies (pa) en Daneilli Rossouw (suster). Foto: Enrico Claassen

DE DOORNS: ’n Tienerseun van De Doorns het Donderdagaand (8 Oktober) in ’n frats-ongeluk gesterf toe hy tydens sy skool se matriekafskeid onder ’n bewegende vragmotor wat ’n matriekpaartjie vervoer, beland het.

Die ongeluk waarin die veertienjarige Fredrico Konstabel van die Stofland informele nedersetting gesterf het, het op die terrein van Hexrivier Senior Sekondêre skool, waar hy ’n graad 9-leerder was, plaasgevind.

Fredrico sou op 21 Desember sy 15de verjaarsdag gevier het. Hy was die jongste van vier kinders.

Die seun se getraumatiseerde ma, Cherla Konstabel (47), vertel aan Standard Breederivier Gazette dat sy Donderdagaand tuis was toe haar dogter, Yvette, se vriendin haar omstreeks 19:00 bel met die nuus dat Fredrico raakgery is. Cherla sê die vriendin was baie paniekerig.

Volgens Cherla het sy en Yvette onmiddellik na die ongelukstoneel afgesit. “Op pad daarheen, het ek die heeltyd vir die Here om krag gevra. Ek wou net by my kind uitkom.

“Fredrico het in die skool se yard gelê. Die polisie was toe al daar. Daar was so ’n klomp mense. Ek het deur die mense gebeur. “Toe ek by my kind uitkom toe lê hy net daar – doodstil op sy maag.”

Cherla bars uit in trane en vertel verder: “Ek het plat langs hom gaan sit en met my hand so oor sy kop gevryf. Die polisieman sê toe ek moenie aan hom raak nie. Daar was so baie bloed.

“Ek het die heeltyd sy naam uitgeroep: “Rico! Rico!”, maar hy het nie gereageer nie. Toe sê ek vir hom “Rico, mammie is lief vir jou.”

Volgens Cherla moes sy midde haar hartseer en paniek boonop die omstanders smeek om nie videos van haar seun te maak waar hy daar op die grond lê nie.

Die ma sê iemand het intussen haar seun met ’n bruin baadjie bedek.

Cherla sê alhoewel niemand in daardie stadium vir haar amptelik ingelig het dat haar seun reeds oorlede is nie, het sy dit reeds geweet omdat hy op niks gereageer het nie.

Volgens haar het die skoolhoof na haar toe aangestap gekom en haar gevra of hy langs haar kan sit, waarop sy “ja” geantwoord het.

Cherla sê paramedici het haar seun, sowat ’n halfuur nadat sy en Yvette by die toneel aangekom het, dood verklaar.

“’n Ma se hart kan dit nie vat as sy moet hoor haar kind is dood nie.”

Volgens Cherla het sy verneem dat die ongeluk gebeur het terwyl haar seun en ’n groep ander kinders aan die agterkant van die bewegende vragmotor gehang het.

“Ek het hom nog die oggend [die dag van die noodlottige voorval] voor ek werk toe gegaan het gesien.

“Ek het hom wakker gemaak en hom ’n stukkie biltong gegee. Min het ek geweet dit sou die laaste keer wees wat ek my kind lewend sou sien.”

Terwyl Standard Breederivier Gazette die onderhoud gevoer het, het naby familie van Fredrico saggies in die agtergrond geween.

“Ek en hy [Fredrico] het nog Woensdagaand lekker gesels. Hy slaap mos by my. Hy het vir my gesê ‘mammie, ek het my kop skoon gemaak’. Hy het my ook vertel van die nuwe onderwyser by hul skool.”

Cherla beskryf haar seun as grapperig. Sy sê sy droom was om eendag soos sy pa, Frederick, ’n trokdrywer te word.

Sy sê sy en Fredrico sou oor die feesseisoen vir familie in Aberdeen gaan kuier het.

“Ek gaan ons geselsies baie mis. Ek gaan my kind verskriklik baie mis, want hy was my babatjie.”

Volgens Cherla blameer sy niemand vir haar kind se dood nie.

Sers. Wesley Twigg, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie in De Doorns ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Hy sê dit volg ná ‘n ongeluk Donderdagaand (8 Oktober 2026) omstreeks 19:40 by ’n skool in Glenco-weg, De Doorns, waarin ’n 14-jarige seun sy lewe verloor het.

Twigg sê die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.

LEES OOK: Seun (8) sterf in fratsongeluk op sportveld oorkant ouerhuis

Fredrico Konstabel
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article