WORCESTER – “Mammie, help my.” Dit was die laaste woorde van die agtjarige Grandwill Gordon-Leigh van der Horst van Paulstraat in Roodewal, Worcester, aan sy ma, Henaschia (29), voor hy op die sportveld by die Esselenpark-stadion gesterf het.
Grandwill, wat geliefd bekend gestaan het as Peanut, is oorlede nadat ’n swaar rugbyskrum-apparaat Donderdagmiddag (30 Julie) bo-op hom beland het. Hy was ten tyde van sy dood ’n graad 2-leerder by Esselenpark Primêre Skool in Worcester.
Grandwill se pa, Rodney (40), vertel aan Nova News dat Henaschia hom Donderdag omstreeks 17:00 histeries by die werk gebel en meegedeel het dat Grandwill op die sportveld is en dat hy nie ’n polsslag het nie.
Volgens hom het sy werkgewer hom onmiddellik by die stadion gaan aflaai.
Rodney vertel hartseer: “Toe ek by die stadion kom, was my kind reeds toegegooi. Ek het na hom gehardloop en die kombers opgelig. Ek het aan hom geraak en gesê ‘Boeta, ek het vir jou ’n pak koekies gebring’.
“Sy gesig was vol bloed en sy een oog was nog oop. Ek het dit toegemaak. Hy was toe al oorlede. Dit was hartseer. Ek het net daar gestaan en toe weggeloop. Ek kon dit nie hanteer nie.”
Volgens Rodney het sy seun die dag van die voorval saam met vier maatjies op die betrokke sportveld, reg oorkant hul woning gaan speel. Hy sê hulle het gespeel waar die rugbyspelers gewoonlik oefen.
Rodney sê soos hy verstaan het die vier seuns die skrum-apparaat opgelig waarna sy seun onder dit ingekruip het. Volgens hom weet hy nie wat sy seun onder die apparaat gaan maak het nie.
“Een van die seuns wat help vashou het, het moeg geraak, die apparaat gelos en weggestap. Die ander drie seuns kon dit ook nie langer in die lig hou nie en dit laat sak. Dis toe dat dit op Grandwill beland. Dis ’n geweldige stuk yster daardie.”
Volgens Rodney het sy neef Curtley Pieterse (30) wat naby hulle woon na die toneel afgesit toe die nuus sy ore bereik het. Hy sê Pieterse het toe na sy (Van der Horst se) huis gehardloop en vir Henaschia gesê sy moet gaan kyk wat op die stadion aangaan.
Grandwill se tante Lynn Hansen (28) vertel: “Toe Grandwill vir sy ma sê ‘mammie, help my, toe sê sy ma ‘Grandwill, mammie is hier by jou’.”
Volgens Hansen wou Henaschia aanhoudend by die paramedici weet hoe haar seun onder die apparaat beland het. Sy het kort hierna inmekaargesak. Die jong ma het op die toneel mediese behandeling ontvang.
Rodney vertel huilend: “Ek was baie oor hom. Hy was my suikerkind. Ek en hy het ’n band gehad wat niemand kon breek nie.”
Volgens Rodney het hy Donderagnag nie ’n oog toegemaak nie omdat hy die heeltyd sy vrou moes kalmeer.
Rodney sê toe hy uiteindelik aan die slaap raak, toe droom hy van sy oorlede seun: “In die droom het ek hom gevra om te gaan speel. Ek sê toe ‘onthou Boeta, moenie laat terugkom nie’. Toe vra ek hom met wie gaan hy speel, toe antwoord hy: ‘maar daddy, ek gaan met Ouma Francis speel’. Dis waar ek wakker geword het.”
Volgens Rodney was ouma Francis sy seun se ouma. Sy is verlede jaar oorlede.
Hy sê sy vrou het ook ’n droom van hul oorlede seun gehad. In die droom het Grandwill by die huis ingehardloop gekom. Sy vra hom toe of hy lief is vir haar. Hy antwoord toe met ‘ja, mammie, ek is lief vir mammie’.
Grandwill se oumagrootjie, Sophia Hansen (78), sê die jong kinders in die omgewing ween baie oor Grandwill.
Lynn sê op haar beurt dat die familie baie uitgesien het na die naweek omdat Sophia Sondag (2 Augustus) 79 word. Die familie sou ook haar (Lynn se) neef (Pieterse) se seun se eerste verjaardag vier. Pieterse se seun het ’n jaar oud geword op die dag wat Grandwill oorlede is.
Sy sê die feesvieringe gaan nou tot later uitgestel word.
Rodney beskryf sy seun as ’n terggees en iemand wat baie daarvan gehou het om te speel. “Ek gaan niemand blameer nie – nie eers myself nie. Die Here het hom vir agt jaar vir ons geleen. “My kind het nie meer pyn nie, maar dié wat hy agterlaat, het pyn.”
LEES OOK: Law firm to probe death of learner crushed by goalpost




