Hy is dalk bloedjonk, maar ‘n jong seun van Roberson weet hoe om die regte skuif te maak.
Die sesjarige Elijah Edons, ‘n gr.-1-leerder aan die Laerskool De Villiers in Roberston, is gekies om van 28 Maart tot 2 April aan die Suid-Afrikaanse Junior Geslote Skaakkampioenskap in Rustenburg deel te neem. Hier sal hy teen die beste spelers in die land meeding.
Hy het ook van 15 tot 17 Desember in Port Elizabeth aan die Mzansi- interprovinsiale skaakkampioenskap deelgeneem.
Elijah was al verskeie kere lid van die Kaapse Wynland-skoleskaakspan in sy ouderdomsgroep.
Hy word deur Emil Danster afgerig, wat harde werk ingesit het om dié jong man voor te berei. Elijah het ‘n druk skaakprogram en speel ook van 20 tot 22 Februarie vir die Wes-Kaapse interstreekbeker-spanbyeenkoms in Worcester.





