Van raakrugby speel in die strate van Hexpark in Worcester tot ‘n plek in die Global Schools Challenge wat volgende week in Barcelona, Spanje, begin.
Jayden Plaatjies (17) van Worcester-Wes, ‘n gr.11-leerder by die Hoërskool Montana in Worcester, se tasse is gepak, want vanoggend (11 Desember) vlieg hy na Spanje waar hy die geleentheid gaan kry om sy dinamiese rugbyspel op ‘n internasionale verhoog ten toon te stel.
Die Global Schools Challenge, wat by die Mediteranean Sports Village in Cambrils, Spanje, plaasvind, is ‘n elite-platform wat die beste talent in jeugsport ten toon stel. Dit bring sportlui van topskole wêreldwyd bymekaar om teen mekaar mee te ding en hul gedeelde passie vir sport te vier.
Hierdie uitdaging behels etlike sportkodes, waaronder netbal, rugby en sokker.
Die Global Schools Challenge vind van 14 tot 18 Desember plaas.
Op sy beurt is UXi Sport ‘n trotse afdeling van UXi Private Education – ‘n sakegroep wat meer as 35 handelsmerke in private onderwys besit.
UXi Sport het die behoefte aan ‘n ontwikkelingsplatform vir rugby-atleet-transformasie geïdentifiseer. Dit is geskep vir rugbyspelers wat nie toegang tot tradisionele universiteitstrome het nie, of diegene wat net nie in die tradisionele universiteitstrome belangstel nie.
Die UXi Rugby Institute bied ‘n hoëprestasie-rugbyontwikkelingsprogram tesame met ‘n akademiese kwalifikasie, asook geestelike en lewensvaardigheidsafrigting, aan.
Dit maak voorsiening vir optimale ontwikkeling in rugby in ‘n gedissiplineerde struktuur en bied aan die student ‘n geleentheid om holisties as individu te groei, terwyl ‘n kwalifikasie deur geakkrediteerde verskaffers voltooi word, wat indiensneembaarheid tydens en ook ná rugby sal verseker.
Andrew Barry, ‘n werwingskonsultant en afrigter by UXI Sport, sê hierdie besonderse eer wat Jayden te beurt val – om aan die Global Schools Challenge deel te neem – het hom toegekom nadat UXI Sport hom op ‘n rugbytoernooi, toe hy vir die Hoërskool Montana gespeel het, raakgesien en onmiddellik opgeraap het.
Volgens Barry is Jayden aanvanklik geoormerk om eers in 2026 vir 2027 gekontak te word.
“Met die Global Schools-toernooi het ons dus die geleentheid gehad om die geoormerkte speler te nooi om by die UXI Invitation Schools-spanne aan te sluit.
“Die speler het ‘n hibriede vermoë om as beide losvoorspeler sowel as binne- en buite-agterspeler te speel, wat sy veelsydigheid waardevol vir ‘n toerspan maak,” sê Barry.
‘n Beskeie Jayden het aan Standard Breederivier Gazette gesê die rugby-gogga het hom reeds op agtjarige ouderdom gebyt het toe hy raakrugby saam met maats in die strate van Hexpark in Worcester, waar hy grootgeword het, gespeel het.
Dit is daar waar hy ‘n liefde vir rugby begin ontwikkel het.
Volgens hom het hy op laerskool vir Esselenpark Primêre Skool rugby gespeel en van gr. 8 tot op hede vir die Hoërskool Montana.
Hy vertel dat hy vanjaar as kaptein van die skool se eerste span gekies is. Hy het ook as onderkaptein diens gedoen.
Volgens Jayden speel hy so af en toe binne-senter, maar die meeste van die tyd is hy op die posisie as flank.
Voel hy geïntimideerd deur die Global Schools Challenge?
“Ek voel nie geintimideerd nie; wel ‘n bietjie senuweeagtig vir die onbekende spel,” sê Jayden.
“Die spel is dalk anders as dit waaraan ek gewoond is, maar rugby is iets waarvan ek hou. Dit is in my bloed.”
Volgens Jayden het sy oupa aan vaders- kant, Andries Plaatjies, vir Roses United rugby gespeel, terwyl sy oupa aan moeders- kant vir Young Hamiltons gespeel het.
Hy sê hy onthou nog goed hoe hy, toe hy nog baie klein was, gereeld saam met sy ma en tantes rugbyveld toe gegaan het wanneer Young Hamiltons uitgedraf het.
Jayden sê ter voorbereiding vir die Global Schools Challenge het hy ten minste vier keer per week gimnasium toe gegaan en dan sowat drie ure geoefen.
Hierdie jong rugbyspeler beoog om ná skool sportwetenskap te studeer.
Wedstryde by die Global Schools Challenge sal regstreeks op RugbyPass, NextGenXV en SuperSport Schools gestroom word. – Enrico Claassen


