Bestuurslede van die Worcester Villagers-klub Zakirieyah Don (ondervoorsitter), Piet Hermanis (se­kretaris), Thomas Jacobs (ontwikkelingsbeampte) en Hildegaurd Lombaard, prinsipaal van Victoria Park Primêre Skool, verwelkom die afgevaardigdes.

‘n Werksessie is op Saterdag 24 Januarie in Worcester gehou om rugby-afrigters met moderne afrigtingsbeginsels, praktiese oplossings en strategiese voorbereiding vir die komende seisoen te bemagtig.

Dié suksesvolle sessie is deur Multisure Villagers Worcester by Victoria Park Primêre Skool aangebied.

“Ons wou ons verbintenis tot volhoubare rugbyontwikkeling hierdeur bevestig,” het Piet Hermanis, die span se sekretaris, gesê.

Daar was ‘n groot opkoms na die werksessie met 27 afrigters wat van so ver as Laingsburg, Malmesbury en van reg oor die Breedevallei gereis het. “Veral landelike afrigters was sterk verteenwoordig, wat die noodsaaklikheid en waarde van sulke ontwikkelingsinisiatiewe in breër gemeenskappe beklemtoon,” het Hermanis gesê.

Lance Senin besig met demonstrasies. Foto’s verskaf

Die sessie is deur die hoog aange­skrewe afrigter Lance Sendin aangebied, wie se kundigheid deur Boland Rugby en SA Rugby (SARU) erken word. Sy professionele, praktiese en insiggewende aanbiedingswyse het waardevolle kennis oorgedra, wat regstreeks vir klub- en gemeenskapsvlak toepaslik is.

Multisure Villagers Worcester wil graag ons opregte dank uitspreek teenoor Victoria Park Primêre Skool vir die gratis gebruik van die skool se geriewe.

“Hierdie samewerking getuig van ‘n sterk en groeiende vennootskap tussen die skool en Villagers Worcester.”

Die tydsberekening van die werksessie kon nie beter gewees het nie. Met klubs ­wat tans in die voorseisoenvoorbereidingsfase is en ligakompetisies wat in Maart begin, het afrigters bevestig dat die sessie hulle beter toegerus, goed gemotiveer en meer voorbereid laat voel vir die uitdagings van die nuwe seisoen.

Die geleentheid het nie net tegniese vaardighede versterk nie, maar ook die belangrikheid van deurlopende afrigtingsontwikkeling, kennisdeling en professionele standaarde binne gemeenskapsrugby beklemtoon.

Die positiewe terugvoer was oorweldigend, met afrigters wat sterk aangedui het dat soortgelyke ontwikkelingsessies weer aangebied moet word.

Die rugbyspan is toegewy aan die ontwikkeling van afrigters, spelers en die breër rugbygemeenskap en beskou die werksessie as nog ‘n belangrike stap in die bou van ‘n volhoubare en mededingende toekoms vir rugby in die streek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article