Die gewilde selfoonvideo wat in 2019 op sosiale media soos ‘n veldbrand versprei het en waarin ‘n jong meisie met haar fiets in ‘n rugbypaal in Namibië vasry en die land laat skater het, is nou in ‘n rolprent omskep.
Die rolprent, My f*k, Marelize!, is tans in teaters in Suid-Afrika en Namibië te sien.
Standard Breederivier Gazette se susterskoerant, Paarl Post, het Vrydag die geleentheid gekry om met die bekende Horn-gesin van Windhoek, op wie die rolprent gegrond is, te gesels.
Die Horns en twee aktrises in die rolprent, Nichola Viviers en Zandelle Meyer, het verlede Vrydagaand (29 Augustus) die rolprent saam met fliekgangers by Minimax in die Paarl gekyk. Dit was nadat Lyndon Jaftha, die eienaar van Paarl FM, ‘n paar tou- tjies getrek het deur die regisseur en rolprentvervaardigers van die rolprent te kontak, wat toe ingestem het dat dit in dié teater vertoon kan word.
Die oorspronklike video wys ‘n meisie wat met haar fiets reguit in ‘n rugbypaal vasry, terwyl haar ma onvergeetlik uitroep: “My f*k, Marelize!” Die eenvoudige oomblik het onmiddellik ‘n internet-sensasie geword, maar agter die humoristiese video skuil ‘n intieme gesinsverhaal.
Die Namibiese Horn-gesin, wat die rolprent geïnspireer het, word in die produksie op ‘n hartroerende en humoristiese wyse uitgebeeld.

‘Dit voel soos ‘n droom’
Volgens Marelize Horn moet sy haarself soggens knyp wanneer sy opstaan.
“Dit [die ervaring] voel soos ‘n droom.”
Volgens haar het die Horn-gesin nooit gedink hierdie video sal “viral” versprei nie en sy was verbaas toe iemand haar laat weet dit het op News24 verskyn.
Sy vertel dat haar suster die video geneem het, waarna sy dit na verskeie WhatsApp-groepe gestuur het en dit toe wyd op sosiale media versprei is.
Die rolprent is nie net humoristies nie, maar beeld ook Marelize en haar suster, Wilmari, se ma, Heidi Horn, se kankerstryd uit.
Op die vraag wat die Horn-gesin deur hierdie hele ervaring geleer het, het almal saamgestem: “Daar is hoop”.
Volgens Tiaan Horn, die patriarg van die familie, “is die lewe vol hekke” en beteken hierdie “hekke” nie dat dit die einde van jou pad is nie, maar net dat dit ‘n struikelblok is wat oorkom moet word.
“Niks [in die lewe] is ‘n reg nie – dit is alles ‘n voorreg,” het Tiaan bygevoeg.
Die vier akteurs wat die Horn-gesin vertolk, sluit in Je-Ani Swiegelaar as Heidi, Neels Clasen as Tiaan, Nichola Viviers as Wilmari en Zandelle Meyer as Marelize.
Meyer het ook die toekenning ontvang vir Beste vroulike byspeler in ‘n rolprent by vanjaar se Silwerskermfees vir haar rol, terwyl Swiegelaar weggestap het met die prys as Beste aktrise in ‘n speelfilm.
Die regisseur van die rolprent, Zandré Coetzer, het in ‘n verklaring verduidelik dat die rolprent daarop gemik is om die Horn-gesin, soos hulle in die regte lewe is, uit te beeld.
‘Eerlik en intiem’
“Ons het elemente van vermaak ingesluit, maar altyd met die gesin se hart in gedagte. Die rolprent moes soos ‘n tuisvideo voel – eerlik en intiem.
“Ons het selfs by die kanker-organisasie waar Heidi [Marelize se ma] in die werklikheid behandeling ontvang het, geskiet om hul wêreld so getrou moontlik te weerspieël.”
Coetzer vertel verder sy en die draaiboekskrywer, Brett Michael Innes, wou al lankal saamwerk.
“[Dis soos] mense wat belowe hulle gaan saam braai. Ons het besef dit is nou of nooit. Ons het Namibië toe gegaan om die Horns te ontmoet. Tiaan, Marelize se pa, het ‘n kroeg by sy huis en daar het ons stories gedeel. Ons het besef hierdie gesin is baie meer as net ‘n snaakse video – hulle is hartlik, liefdevol en herkenbaar.”
Die rolprent beklemtoon die universele temas van menslikheid en selfaanvaarding.
“Dit was die perfekte epic fail-oom- blik, maar wat dit onvergeetlik gemaak het, was Heidi se rou, eerlike reaksie. Dit laat mense voel dis oukei om jouself te wees en jou foute te hê.
“In jou gesin en by familie kan jy wees wie jy is – hulle rol hul oë, maar ondersteun jou onvoorwaardelik,” sê Coetzer.
• My f*k, Marelize! is nog tot Donderdag, 11 September by die NuMetro-fliekteater in die Mountain Mill-winkelsentrum in Worcester te sien.





You must be logged in to post a comment.