’n Plaaslike fliek wat op Robertson se Kerskore fokus, Old Righteous Blues, gaan Hollywood toe!


“Dit was soos ’n weerligstraal wat ons getref het. Ons kon dit nie glo toe ons die nuus hoor nie. Dit was ondenkbaar!”

Só sê Carol Shore, die draaiboekskrywer en medevervaardiger van die Kerskoor-rolprent Old Righteous Blues, wat deur Suid-Afrika benoem is om dié land in die afdeling Beste internasionale rolprent by aanstaande jaar se 97ste Oscar-toekennings te verteenwoordig.

Shore, van Robertson, sê die span was daarop gefokus om die rolprent vervaardig te kry. Dit, sê sy, was al ’n prestasie. Volgens haar het sy en haar span nie vir ’n oomblik die oorweldigende reaksie verwag wat hulle gekry het sedert die rolprent in Augustus 2023 op die silwerskerm verskyn het nie.

“En dan die Oscars-keuring! Dit was surrealisties. Ek is so dankbaar vir dit alles.”

Volgens Shore het die National Film and Video Foundation, ’n agentskap van die departement van sport, kuns en kultuur, die goeie nuus op Vrydag 13 September met haar en haar span gedeel.

Old Righteous Blues is in die Robertson-omgewing verfilm. Tonele is ook in 2022 in die Bolandpark-stadion in Worcester opgeneem.

Die rolprent is gebaseer op ’n werklike gebeurtenis wat hom destyds in Robertson afgespeel het.

Bekendes in die vermaakbedryf, onder wie Simon Bruinders, Kevin Smith en Ivan Abrahams, is deel van die rolverdeling.

Shore vertel kortliks wat die rolprent behels: “Toe Hantjie Jansen hoor dat sy oom, Jacques, op die punt is om uit te tree as drom-majoor in die dorp se Kerskoor, het hy (Hantjie) geweet sy kans het gekom.

“Hy is gebore om drom-majoor te wees en is seker hy sal by die proewe gekies word. Dit is sy droom en hy het sy hele lewe lank daarvoor geleef. Maar dinge werk toe glad nie so uit nie. Toe Hantjie doelbewus opsygesit word vir iemand wat minder talentvol is, besef hy dat hy en sy hele gesin die prys betaal vir ’n besluit wat sy pa baie jare gelede geneem het – ’n besluit wat die koor in twee geskeur en die gemeenskap verdeel het.

“Hantjie sal nou die spoke van die verlede moet konfronteer en die korrupte leierskap van die Kerskoor takel, wat nie net sy toekoms met die Kerskoor, waarin hy en sy gesin gebore is, in gevaar stel nie, maar ook sy aansien in sy gemeenskap.

“Wanneer gebeure nóg ’n verslegtende wending neem, begin Hantjie sy dieper doel raaksien . . . om die twee strydende Kerskore te verenig en hulle weer onder een vaandel te lei.

“Om dit te doen, sal ’n daad van groot moed en versiendheid vereis, wat die kern van sy opvoeding uitdaag.”

Shore sê wat Old Righteous Blues ’n plek in die vir Beste internasionale rolprent by die 97ste Oscar-toekennings verseker het, is die feit dat Kerskore visueel baie treffend is.

Volgens haar is hierdie unieke kultuur en musiektradisie byna onbekend buite die Wes-Kaap.

“ ’n Deel van die rolprent se aantrekking is dus die uniekheid van die pragtige Bolandse omgewing en die varsheid van ’n belangrike deel van ons kulturele erfenis – iets wat gehore nog nie voorheen op die skerm gesien het nie.

“Maar op ’n dieper vlak dra ons protagonis, Hantjie, die hoop en drome van ons hele lewe voort en wys ons dat die bereiking van jou droom net kom met onwrikbare deursettingsvermoë, passie en toewyding.

“Hy oorweeg dit nooit om moed op te gee nie en is bereid om die pynlike teëspoed wat in sy pad gegooi word, te verduur.

“Ek dink gehore het aanklank gevind by die eenvoudige, universele waardes om vir integriteit en waarheid te staan, maak nie saak wat nie, want daar is geen alternatief nie.”

Volgens Shore is Old Righteous Blues ook ’n kragtige verklaring van hoe ’n klein plattelandse, minderbevoorregte, vergete gemeenskap ’n sistemies wrede tyd in sy geskiedenis oorleef het.

Shore sê hierdie prestasie is ’n verdere bevestiging dat ’n rolprent uit die “wêreldwye suide”, wat ’n klein begroting het in vergelyking met die “marvel wonders”, homself op ’n wêreldverhoog kan handhaaf.

Volgens Shore is sy ontsaglik trots op wat hulle as ’n span bereik het, die buitengewone vaardighede van haar talentvolle hoofvervaardigers Cati Weinek en Dumi Gumbi om hierdie geweldige projek na die skerm te bring, asook die jong opkomende ster-regisseur Muneera Sallies wat lewe aan hierdie wonderlike karakters gegee het.

Shore sê sy is trots op die “verstommende toewyding” deur die rolverdeling en produksiespan. Sy bedank ook die lede van die Robertson Old Saint Blues Christmas Choir Band wat in die rolprent verskyn.

Die rolprent kan van 20 Oktober af op DStv Box Office gesien word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article