Freginald Africa van Robertson Town rugbyklub.
Freginald Africa, die woelwaterlosvoorspeler van Robertson Town, breek deur Ashton United (Unies) se verdediging. Africa het ‘n barshou gespeel. Hy het twee van sy span se drie drieë gedruk. Town en Unies was op die Van Zylstraat stadion in ‘n tweederonde-Grootuitdaagbeker-ligawedstryd slaags. Town was met 27-21 baas. Foto: Norman Evertson

ROBERTSON. – Die Bolandse rugbyklubkampioen, Robertson Town, se opmars na vanjaar se Top 12-kompetisie is steeds op koers nadat hy sy posisie boaan die Grootuitdaagbeker-punteleer in die Breë-Langebergstreek die afgelope Saterdag (28 Junie) met sy sege oor Ashton United (Unies) verstewig het.

Town het Unies ná ‘n klipharde stryd op die Van Zylstraat-stadion 27-21 geklop, nadat hy met waterdrinktyd 14-0 voor was.

Die tuisspan het vroeg die voortou geneem nadat sy woelwaterflank Freginald Africa ná ‘n goeie skrum oorgeval het vir sy span se eerste drie. Adriano Conradie (losskakel) se doelskop was tussen die pale deur. Dié verdoelde drie het aan Town ‘n voorsprong van 7-0 besorg.

Ná ongeveer 20 minute se spel is die tuisspan se voorsprong vergroot toe Africa, wat ‘n barshou gespeel het, sy tweede drie agter die doelpale geplant het. Conradie het die maklike doelskop oorgeklits en die telling het na 14-0 gegroei.

Al het albei spanne hierna om die beurt verskeie aanvalle van stapel gestuur, was die telling met rustyd steeds 14-0 weens talle hanteerfoute wat belowende bewegings aan bande gelê het.

In die tweede helfte het Unies met groter ondernemingsgees gespeel. Anrich Nelson (heelagter) het ná ‘n stukkie opportunistiese spel ‘n aanskoulike drie gedruk. Hy het die bal oor die verdediging geskop, dit opgevolg, weer in die hande gekry en oorgeduik vir ‘n pragdrie. Daarby het hy sy eie drie verdoel en die telling 14-7 gemaak. Unies het skielik met hernude geesdrif gespeel en was sommer kort nadat Conradie spel hervat het, weer oor Town se doellyn. Jack Delis (skeidsregter) het egter ná konsultasie met ‘n lynregter aangedui die bal is aangeslaan en het ‘n skrum aan Town toegeken. Minute later het Conradie sy span se voorsprong met twee agtereenvolgende strafdoele tot 20-7 vergroot.

Unies was nou aan die voet van ‘n steil bult, terwyl die uurglas leeggeloop het. Ondanks dié uitdagende vooruitsig het hy botweg geweier om boedel oor te gee en het met ‘n drie deur Algergervin Williams, wat deur Nelson verdoel is, teruggeslaan om die telling 20-14 te maak. Hierna het Town weer met ‘n geweldige aanslag gekom waartydens sy kragman Marco Jones (agsteman) in besit gestel is. Dié het soos ‘n wafferse vleuel langs die kantlyn af genael en agter die doelpale gaan druk. Conradie het twee punte met sy skop bygevoeg, wat die telling na 27-14 geneem het.

Met slegs enkele minute speeltyd oor het dié verdoelde drie die wedstryd as’t ware buite bereik van die besoekers geplaas. Tog het dit nie Unies se veggees geblus nie. Inteendeel, met speeltyd feitlik verstreke, het hy met ‘n drie deur Farrel Kelly weer teruggekap. Nelson het met sy suksesvolle doelskop nog twee punte begedra, wat die eindtelling op 27-21 te staan gebring het.

Met hierdie doelgerigte eindpoging het Unies seker gemaak hy kry ‘n waardevolle verloor-bonuspunt. – Norman Evertson

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article