Die verdedigende kampioenspan Robertson Town het Saterdag 15 November sleg tweede beste daarvan afgekom toe die Witzenbergspan Roses United van Wellington met klinies korrekte spel daarin geslaag om Town met 30-25 te klop nadat hulle teen rustyd reeds met 19-3 voor was.
Town het aanvanklik geweldige druk op Roses geplaas en veral die losskakel, Collin Willemse, het met goedberekende skoppe toegesien dat Town op die voorvoet bly. Roses het egter die druk baie goed verwerk en met klinies korrekte spel die kampioene self onder geweldige druk geplaas. Roses het die eerste punte aangeteken toe die regter-vleuel, Easton Arendse, oor is vir ‘n drie en die losskakel, Garth April, verdoel het om hul span 7-0 te laat voorloop. Willemse het hierna met ‘n strafskop geslaag om die telling te laat krimp voordat die plaasvervanger-stut Layola Nolanafa gedruk het nadat Town se haker, Abdura-Ouf Gallie, met ‘n geelkaart afgestuur is.
Roses het sy voorsprong gerek toe die heelagter, Xavier Lee Solomons, ‘n losbal opgeraap en gaan druk het om Roses United teen rustyd 19-3 te laat voorloop.
Town het ná rustyd met hernude ywer begin en ná ‘n geelkaart aan Roses se binnesenter, Marc Andries, het die plaasvervanger-agsteman Marco Jones met brute krag oorgeduik en met Willemse se geslaagde doelskop het die agterstand tot 10-19 gekrmp. Hierna het Town se deurwinterde buitesenter, Jenniwil April, skitterend gebreek en toe hy voorgekeer word, was die linkervleuel, Naval Padiachy, by om af te rond. Met Willemse se doelskop het die agterstand tot 17-19 gekrimp.
Kort hierna het Town die neus voor gekry toe Jones sy tweede drie druk. Town het sy voorsprong weer gerek toe nog ‘n skerpskutter-plaasvervanger-losskakel, Adrianno Conradie, met ‘n strafskop slaag (telling 25-19).
Roses het egter nooit besgegee nie en self met ‘n verwoede aanslag gekom, wat op ‘n onvervyfde drie deur Andries gelei, die agterstand tot 24-25 gekrimp het. Kort hierna was Roses weer voor toe Solomons, die heelagter, met ‘n netjiese strafskop slaag en Town se lot oomblikke later verseël toe hy kort voor die einde met nog ‘n strafskop geslaag het om Roses United met 30-25 te laat seëvier.
Met hierdie sege verseker Roses United ook dat hy nie net die Breëlangeberg-afdeling se houvas die afgelope twee seisoene beëindig nie, maar dat hy ook Saterdag (22 November) in die Boland-stadion in Wellington teen Weskus se Saldanha te staan kom. – Alver Uys





