Die Robertson-krieketklub het op 21 Julie op sy jaarvergadering ‘n nuwe tussentydse bestuur gekies, wat die klub vir die nuwe seisoen sal lei.
Die nuwe bestuur is: Jupeter Hopp (voorsitter), Frans Rossouw (ondervoorsitter), Johanita Philander (tesourier), Yusri Abrahim (sekretaris), Heinrich du Plessis (terreinbeampte), Aubrey Philander (klubkaptein), Eon Douw (wedstrydsekretaris) en Edwin Philander (trustee).
Robertson KK sal – ná talle uitdagings op en weg van die veld af in die vorige seisoen – in die nuwe seisoen in die Boland-promosieliga meeding.
Die bestuur het in ‘n gesamentlike verklaring gesê: “As die nuwe bestuur weet ons ons het baie uitdagings wat ons in die gesig staar, maar ons glo dat ons met die hulp van Bo weer die klub kan lig tot die hoogte en aansien wat dit eens was. Robertson sit met soveel talent dat ons nie kan toelaat dat die jong spelers verlore gaan nie.
“As klub is ons ‘n gemeenskapsklub en nie ‘n eenmansaak nie, dus nooi ons alle oud- en nuwe spelers in ons gemeenskap om deel van die klub te wees. Ons legends van gister, wat die wapen trots gedien het, word genooi om te kom help en hul kennis aan die generasie van vandag en môre oor te dra.”
Die klub oefen tans op Dinsdae en Donderdae by Vergesig Primêre Skool, en nooi almal uit om deel van die “nuwe” klub te word.



