Navan Padiachy, linkervleuel van Robertson Town, op pad doellyn toe. Padiachy het ‘n blink verto- ning gelewer en ‘n driekuns aan drieë behaal. Hy is ook gepas as die Sanlam- Speler van die wedstryd aangewys. Robertson het die Sanlam-Boland- Top-12-kragmeting teen Abbotsdale verspot maklik met 80-12 gewen. Foto: Norman Evertson

ROBERTSON – Ná ‘n stotterende begin het Robertson Town sy eendjies uiteindelik in ‘n ry gekry en daarna die besoekende Abbotsdale van hul voete af gespeel. Town het Abbotsdale in hul Sanlam-Boland-Top-12-wedstryd met 80-12 afgeslag.

Dit was egter eers ná sowat 20 minute se spel – ná die lemoenbreuk – dat Town behoorlik vlamgevat het. Daarna was daar geen keer aan die verdedigende Bolandklubkampioen nie.

Die tuisspan was in ‘n vernietigende bui en het teen rustyd reeds die bonuspunt vir vier drieë in die sakkie gehad.

Danksy drieë deur Michaine Fick (buitesenter), Dihan van der Walt (agste- man), Jayden Siljeur (flank), Juandre Joseph (heelagter) en twee doelskoppe deur Colin Willemse was Town met die omdraaislag al 24-0 voor.

Ná rustyd het Town Abbotsdale verder gestoomroller.

Benewens ‘n strafdrie het die tuisspan nog sewe drieë ingeryg.

Navan Padiachy (linkervleuel) het ‘n driekuns aan drieë behaal.

Die ander spelers wat in die tweede helfte agter die besoekers se doellyn gaan kuier het, was Freginald Africa (flank), Alrin Eksteen (binnesenter), Juandre Joseph (sy tweede drie) en die kragman Marco Jones (plaasvervanger-agtsteman).

Willemse het die vyfpunter van Africa verdoel voordat hy deur Adriano Conradie op losskakel vervang is. Conradie, wat goed gekorrel het, het die ander ses drieë verdoel.

Hoewel Town die wedstryd as ’t ware kort ná rustyd reeds beklink het, het Abbotsdale nooit gaan lê.

Die telling was in ‘n stadium in die tweede helfte 59-0.

Maar ten spyte van die bykans onbegonne taak op hande het die besoekers aanhou probeer en hulle is uiteindelik met drieë deur Donray Manuel en Delano Baartman (agsteman) beloon. Slegs Baartman se drie is verdoel.

Town het dié Sanlam-Boland-Top-12-kragmeting uiteindelik verspot maklik met 80-12 gewen.

Navan Padiachy is as die Sanlam-Speler van die wedstryd aangewys. – Norman Evertson

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article