Die einde van ‘n stink rioolprobleem in Roodewal, Worcester, is hopelik in sig.
Die riool, wat in erwe opborrel en straat- af loop, frustreer inwoners van Quint- en Springveldtstrate in Roodewal, Worcester, glo bykans tien jaar lank. Met tye is die probleem weg, maar dit steek gereeld weer die kop uit.
Die munisipaliteit het die afgelope maand aan die pyplyn, wat agter deur inwoners se erwe loop, gewerk om die probleem op te los. ‘n Nuwe pyplyn sal eersdaags geïnstalleer word, wat die einde van die probleem behoort te beteken.
Dit is deel van ‘n groter projek om rioolprobleme op te los wat ook in Riverview en Noble Park ervaar word.
Volgens Angelo Fleur en Julian Goodheart het hulle die rioolkwessie in Quintstraat reeds talle kere aangemeld, maar die probleem is nooit heeltemal opgelos nie.
Van hul bekommernisse is dat die stukkende rioolpype die grond uitspoel en ‘n sinkgat in hul erwe of onder hul huise kan vorm. “Ons laat nie eens die kinders meer agter speel nie, want dit voel nie veilig nie,” sê Fleur.
‘n Groot gat is in sy buurman, Goodheart, se erf gegrawe om aan die pyp te werk. Dit is weer toegegooi.
Met die nabygeleë woonstelblokke dra die rioolpyp ‘n groot lading, verduidelik hulle. Die water in inwoners laer af in die straat se toilette stoot glo op en hulle kan nie die toilette gebruik nie.
“Ons is nie agterstallig met ons reke- ninge nie. Ons wil graag ‘n tasbare oplos- sing vir hierdie langdurige probleem vind,” sê Fleur.
Volgens die Breedevallei-munisipaliteit is ‘n rioolpyp wat ineengestort het, die oorsaak van die onlangse probleem. ‘n Deel van die pyp het gedisintegreer, wat die strukturele integriteit van die stelstel in die gebied in die gedrang gebring het.
“Die munisipaliteit het ‘n pro-aktiewe herstel- en instandhoudingsplan om infrastruktuur te herstel en werk volgens ‘n skedule. Omdat dele van die infrastruktuur oud is, gebeur dit soms dat sekere dele breek voordat ons spanne instandhoudingswerk kan doen. In hierdie geval het die BVM eers van die pyp se toestand bewus geraak gedurende ‘n assesering deur kamera-inspeksie. Voorheen het hierdie spesifieke deel van die pyp nie probleme gewys nie. Ander dele van die pyplyn, waar ons kon sien probleme is, is herstel,” sê Hannelie Botha, ‘n munisipale woordvoerder.
“ ’n Raadgewende ingenieur is aangestel om ‘n nuwe rioolpyplyn te ontwerp. Die nuwe infrastruktuur sal op die padreserwe in beide Quint- en Springveldstrate gebou word om die deel wat platgeval het, te vervang en die hele stelsel meer betroubaar te maak,” sê Botha.
Nog ‘n pyplyn wat in Riverview en Noblepark ineengestort het, raak veral Noble- en Albatros-strate en het die munisipaliteit hoofbrekens besorg. Met riool wat nie weggepomp kon word nie, het dit in die pypleiding teruggestoot.
Die munisipaliteit het inwoners in ‘n video vir die ongerief verskoning gevra en die probleem verduidelik.
Die hulp van spesialiste is ingeroep.
Die herstelwerk word bemoeilik deur infrastruktuur van ander dienste, soos elektrisiteit, Telkomlyne en waterpype wat water aan Transhex verskaf wat bo-oor die pyp wat herstel moet word, loop.
‘n Kontrakteur het Maandag (15 September) begin om die pyplyn by die Santa Weida-pompstasie te vervang. Die pad sal op 18 September gesluit word vir slote wat die volgende dag gegrawe sal word. Die verwagte voltooiingsdatum is 6 Oktober. Die pyplyn sal opgegradeer word van 60 cm na 250 cm om die kapasiteit te verhoog.
“Ons gee voorkeur aan die probleem om dit so gou as moontlik af te handel,” sê die munisipale bestuurder, David McThomas.




