Inwoners in Roodewal is keelvol oor rioolverstoppings wat byna weekliks in hul woonbuurt voorkom.
Dit blyk dat rioolprobleme stadig maar seker deel raak van die “normale” gemeenskapskwessies of probleme in die dorp. Volgens Breedevallei Onafhanklik (BO) staar Worcester en sy gemeenskappe daagliks rioolverstoppings en -verspoelings in die gesig, en dit is onaanvaarbaar. Die BO sê hy word aanhoudend om navrae vir hulp uit Zwelethemba, Avianpark en Worcester-Wes genader – en veral van die munisipale woonstelle in Roodewal en Riverview, waar mense saam met die stank, vrot, vuil en ongesonde rioolwater moet lewe.
“Vlieë, muggies en muskiete vreet ons lewendig op – genoeg is genoeg!” Kan dit opgelos word en wat moet gedoen word?
Volgens die BO glo hy sonder twyfel dat die probleme opgelos kan word.
“Kry die nodige kundigheid in sodat ons die probleme kan verstaan,” meen die BO.
Die party is van mening die hoofrede vir die rioolverstoppings is swak beplanning en geen instandhouding van die rioolstelsel nie. Hy sê die Roodewal-woonstelle is in die jare sestig vir baie minder mense as wat tans daar woon ontwerp, en die munisipaliteit se onvermoë om die behoefte te hanteer, plaas dus direkte druk op die rioolstelsel.
“Die meer as 20 000 mense op ons behuisingswaglys en die slakkepas van behuisingsprojekte afhandel, is die oorsaak dat buurte soos Riverview, Roodewal, OVD, Tuindorp, Zwelethemba en Avianpark oorbevolk word. Hierdie nalatigheid van die BVM se bestuur sal die belastingbetalers etlike miljoene kos – geld wat vir ander noodsaaklike dienste gebruik kon word,” sê die BO.
Verder verwerp die BO die BVM se aantygings dat die gemeenskap hul eie rioolstelsel “saboteer”. Volgens die party sien hulle hoe swaar dié gemeenskappe onder die gevolge van rioolverspoelings ly en hoe siek veral kinders word.
“Die BO is dankbaar vir die vertroue wat die gemeenskap in ons plaas; ons is altyd daar. Sagte probleme soos verhoudings tussen die inwoners en munisipaliteit is moeiliker om op te los as gevolg van grootskaalse vertrouensbreuk. Mense bel byvoorbeeld die klagtelyne om ’n verspoeling aan te meld, en dit neem dae se opvolg om enige reaksie of diens te ontvang,” verduidelik hulle.
Hulle voeg by hulle is toegewyd om die druk op die koalisie tussen die DA en die VF+ en die administrasie te hou om sodoende te probeer verseker dat die BVM daadwerklike oplossings binne die volgende drie maande moet implementeer.
Volgens Christie “Ou Pen” Fortuin, ’n inwoner van L-blok 7 in Roodewal, moet hy daagliks die stink reuk inasem.
Fortuin, wat op die grondvloer woon, verduidelik dat die rioolwater dikwels tot voor sy voordeur en agterdeur spoel, en dan is hy in sy huis vasgekeer.
Hy sê ook die inwoners van Roodewal word nie ernstig opgevat nie. Volgens die inwoners moet ’n oplossing gevind word, want “dis onmenslik om so te lewe”. Margaret Swarts, ’n raadslid in Roodewal wat haar hande sedert verlede jaar vol het met rioolprobleme, word daagliks uitgeskel oor die probleem. Swarts verduidelik dat sy byna elke dag rioolprobleme aanhoor en ook self gaan inspekteer waar dit is.
“Dit is die munisipaliteit se werk; ons hier op grondvlak kan niks uitrig nie. Ons meld die probleme elke dag aan, en as hulle uiteindelik hier aankom, kyk hulle net na die riool en dan gaan hulle weer,” verduidelik Swarts.
Sy sê die gemeenskap is moeg en stel voor dit moet as ’n gesondheidskwessie gesien word aangesien baie mense as gevolg van die riool wat lank staan, siek word. Sy voeg by dat die BVM geen chemikalieë gebruik om die stank weg te vat nie.
Maandagoggend, terwyl Standard die besoedelde gebied besoek het, het ’n inwoner vertel dat sy haar dogtertjie hospitaal toe moet neem nadat sy weens die riool wat konstant voor hulle deur verbyvloei, siek geword het.
Die water wat veronderstel is om weg te vloei, word deur vullis in die pype vasgekeer. Volgens die inwoners kom die BVM nooit uit om dit skoon te maak nie. Een inwoner sê aangesien werkloosheid so ’n groot probleem is, sal hulle die hele plek self skoonmaak en dit versamel vir ’n salaris of vergoeding van die BVM.
’n Navraag is aan die BVM gestuur, maar teen druktyd het Standard nog geen antwoord ontvang nie.

