Hierdie drein in Buitenkantstraat loop gereeld oor tot in die leiwatersloot en veroorsaak dan dat die rioolwater by mense se erwe inspoel. Foto’s: Tamsyn Jantjies


Inwoners in ’n gedeelte van Buitenkantstraat in Worcester is keelvol vir die gedurige oorstroming van riool in die straat en in hul erwe.

’n Handvol van hulle het Dinsdagoggend die pad met hul wieldromme afgesper om hul missoeë daaroor uit te spreek.

Volgens die inwoners loop rioolwater gedurig tussen Parker- en Le Sueurstraat oor en stroom dit by hul erwe in, glo ook selfs al het dit nie gereën nie.

“Die water stoot op uit die dreine op die sypaadjies, dan loop dit af in die leiwaterslote. In hierdie sloot is daar gereeld blokkasies wat dan veroorsaak dat die water by die inwoners se erwe inloop,” verduidelik Charl Baadjies.

Dis die ontlasting wat uit die een drein vloei, in die leiwatersloot in en dan nog verdere blokkasies veroorsaak

Volgens Baadjies is die leiwatersloot in die res van Buitenkantstraat toegemaak behalwe vir die gedeelte tussen Parker- en -Le Sueurstraat, waar hy woon. Hierdie probleem veroorsaak dan ook dat een van die dreine op die hoek van Le Sueur- en -Buitenkantstraat oorstroom.

“Dis die ontlasting wat uit die een drein vloei, in die leiwatersloot in en dan nog verdere blokkasies veroorsaak,” meen Baadjies.

Sommige inwoners in Buitenkantstraat word genoodsaak om die sypaadjies buite hul erwe aan te pas sodat die water nie by hul erwe invloei nie. Een inwoner sê hy het al meer R2 000 spandeer om te verhoed dat die rioolwater by sy huis invloei.

Inwoners in Le Sueurstraat se erwe word ook gereeld met rioolwater oorspoel en van hulle kan dan nie toegang tot hul agterplase kry nie.

“Wanneer dit gebeur kan ek nie eers by my motor in die agterplaas uitkom nie. My bure het ’n buitetoilet en kan nie daarby uitkom wanneer ons agterplase so lyk nie. Die ander bure se voorkamer is gereeld ook onder water wanneer dit erg reën,” verduidelik nog ’n inwoner.

Volgens die munisipaliteit word die stormwaterpype hier gereeld skoongemaak.

“Die munisipaliteit maak die stormwaterslote skoon, soos per goedgekeurde skedule. Die probleem is dat, as daar swaar reën is, verstop die stormwaterpyp as gevolg van rommel wat daarin gestrooi word. Ons het vandag (Dinsdag) weer gesien dat mense selfs tuinvullis stort in die stormwaterkanaal, regs langs die pad,” sê Hannelie Botha, die BVM-woordvoerder.

buitenkantstraat riool
Een van die straat se inwoners, Charl Baadjies, verduidelik hoe die ontlasting wat uit ’n drein uitspoel by hierdie stormwaterpyp ’n blokkasie veroorsaak.
buitenkantstraat riool
Inwoners van Buitenkant- en -Le Sueurstraat het hul misnoeë oor die rioolsituasie uitgespreek deur die pad met hul dromme te blokkeer.
buitenkantstraat riool
Die munisipaliteit maak ’n drein skoon wat as gevolg van die oorspoeling van ’n ander drein toe ook oorstroom het.

Verder verduidelik Botha die betrokke stormwaterkanaal is as ’n knelpunt gelys.

“Dit word spesiaal skoongemaak, soos die ander knelpunte, voor ons groot reën kry. Mense gelei ook onwettig hul eiendomme se stormwater na hulle rioolstelsels toe en dit veroorsaak dat die riool oorloop in swaar reën en dan saam met die stormwater in die oop stelsel beland,” verduidelik sy verder.

Dit het ook Dinsdag aan die lig gekom dat hompe gestolde vet uit een van die geblokte dreine verwyder moes word.

“Ons het die bou-inspektoraat en watersuiweringsafdeling opdrag gegee om alle besighede langs die lyn in Le Sueurstraat te ondersoek om te verseker dat hulle op ’n wettige en geskikte manier wegdoen met hulle vetafval. As dit ongereguleerd in die stelsel gestort word, stol dit en pak dit aan in die pype. Die hoofrioollyn vernou en dan kom verstoppings voor en riool stoot oor by die laagste punt in die stelsel – wat dan in hierdie geval die hoek van Le Sueurstraat en Buitenkantstraat is.”

Botha maak ook melding dat die BVM proaktief besig is om na oplossings vir hierdie probleem te kyk.

“Verder is daar reeds ingenieurskonsultante aangestel om die geïdentifiseerde riool-knelpunte te ondersoek en om op dringend ontwerpvoorstelle en kosteberamings voor te lê vir opgraderings en verbeterings. Die BVM is een van min munisipaliteite wat finansieel verbind is om pro-aktief sy rioolstelsels op te gradeer op hierdie wyse.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article