Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWS) het ‘n waarskuwing uitgereik vir inwoners om versigtig te wees gedurende die volgende paar dae se gure weer.

Goeie reën het wyd deur die nag (Woensdag 2 Junie) geval met verdere reën wat tot Sondag (6 Junie) voorspel word. Die weerdiens het ‘n vlak 4-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reënval. ‘n Sterk koue front beweeg in wat swaar reën, die risiko van vloede en gevaarlike toestande regoor die Wes-Kaap kan bring. In bergagtige gebiede kan tot soveel as 90mm se reën val.

Volgens die SAWS het dit die afgelope 24 uur (tot en met 08:00 vanoggend) 9mm in Worcester gereën, 22mm in Tulbagh, 6mm in Robertson en 1mm in Montagu.

Antoinette Steyn, die burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, het inwoners gewaarsku om versigtig te wees op die paaie en om nie laagwaterbruggies oor te steek nie. Sy het gesê dat die munisipale spanne regstaan om probleme te hanteer. “Julle veiligheid bly ons topprioriteit. Ek moedig alle inwoners aan, veral diegene wat in laagliggende gebiede wat maklik oorspoel woon, om die nodige voorsorgmaatreëls te tref.”

Veiligheidsmaatreëls wat motoriste kan toepas is om stadiger te ry en hul ligte aan te skakel wanneer dit reën. Hou ‘n langer volgafstand op nat paaie en moet nie skielik en hard rem trap nie, dit kan veroorsaak dit die voertuig gly.

Antoinette Steyn, uitvoerende burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article