'n Koue front beweeg oor die Wes-Kaap en kan swaar reënval veroorsaak.
Inwoners word gewaarsku om veilig te bly wanneer nat en koue weer vir Dinsdag en Woensdag voorspel word. FOTO: Lise Beyers

Trek nader die warm baadjies en die reënjasse!
Met ‘n sterk kouefront wat oor die Wes-Kaap beweeg, word inwoners van die Breedevallei en Langeberg gewaarsku om voorbereid te wees op moeilike weerstoestande. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel (vlak 2) waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën wat vanaf middernag verwag word.
Die kouefront sal na verwagting vir die grootste deel van Dinsdag oor die streek hang en voorspellings dui op neerslag van tussen 20mm en 30mm vir die meeste gebiede, terwyl die bergagtige dele van die Kaapse Wynland, Kaapse Metropool, westelike Overberg en Weskus-distrikte tot 70mm reën kan ontvang.
Dié waarskuwing geld vir elf munisipaliteite, insluitend Breedevallei, Langeberg, Bergrivier, Cederberg, Kaapstad, Drakenstein, Overstrand, Saldanhabaai, Stellenbosch, Swartland, Theewaterskloof en Witzenberg.

Moontlike sneeu


Die webwerf Snow Report SA het gewaarsku dat die hoë pieke in gebiede wat gereeld sneeu ontvang, soos Francshhoek, Paarl, Tulbagh, Worcester, De Doorns, Ceres, die Cederberge, die Koue Bokkeveld, Montagu, Robertson, Swellendam en die Swartberge om Ladismith, Calitzdorp, Oudtshoorn en De Rust moontlik mag sneeu kry. Ten tyde van hul berig sou die Matroosberg-reservaat en bergpasse in die Ceres-omgewing moontlik laer af ook sneeu kry. Stappers wat roetes by die Matroosberg-reservaat en Mont Rochelle-natuurreservaat naby Franschhoek op Dinsdag wou aandurf, is aangeraai om dit eerder met ‘n dag uit te stel.
Die munisipale noodreaksiespan van Breedevallei is reeds op bystand geplaas en sal die situsie deurgaans monitor.
Die weerdiens waarsku teen vloede in laagliggende gebiede, modderstortings en rotsvalle in bergpasse, asook moeilike bestuurstoestande op grondpaaie wat kan lei tot langer reistye.
Die nooddienste beklemtoon dat inwoners onder geen omstandighede moet probeer om deur vloedwater te ry nie.
Inwoners van informele nedersettings word veral aangemoedig om waaksaam te wees, aangesien hierdie gebiede dikwels die swaarste getref word deur skielike reënval.
Inwoners wat noodgevalle wil aanmeld, kan die volgende nommers skakel:
Breedevallei Nooddienste: 023 346 1111
Langeberg Nooddienste: 023 615 8000
Provinsiale Rampbestuur: 021 937 0800
Die weerdiens dui daarop dat toestande waarskynlik teen Woensdagoggend sal begin verbeter, maar inwoners moet steeds versigtig bly aangesien riviere en strome vir ‘n dag of twee na die hoofstorm verhoogde vlakke kan bereik

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article