Bennie van Rooi, president van die Boland rugbyunie aan woord by die Sanlam Boland Derby Dag mediabekendstelling van die derbydagkragmeting tussen Ashton United RVK en McGregor RVK. Op die agtergrond is Patrick Visser, programleier tydens die mediabekendstelling. Die derbystryd vind eerskomende Saterdag 19 Julie op die Cogmanskloof sportterrein op Ashton plaas. Die mediabekendstelling is laas Woensdag 9 Julie in die VGK Kerksaal gehou. Foto: Norman Evertson

ASHTON. – Die Sanlam-Boland-derbydag se mediabekendstelling van die komende derbykragmeting tussen Ashton United-RVK en McGregor-RVK, wat Saterdag (19 Julie) plaasvind, is verlede Woensdagaand (9 Julie) in die VGK-saal gehou.

Patrick Visser, in Boland-rugbykringe alombekend as “uncle Pettas”, en wat in die kantoor van die tugkomitee van die Boland-rugbyunie werk, was die programleier tydens die aand se verrigtinge, wat ook deur talle spelers en bestuurslede van albei klubs bygewoon is.

Die uniepresident, Bennie van Rooi, was ook teenwoordig. Van Rooi het die twee klubs in ‘n kort toespraak met die komende derbystryd voor­spoed toegewens. Hy het egter eers uitgevaar teen mense wat gedurig die skeidsregters van die Boland-rugbyunie beskuldig as dinge op wedstryddae nie vir hul spanne goed verloop nie.

Van Rooi het aan Ashton se voorsitter, pastoor Gerrit Abrahams, gesê: “Ek het nog nie vir ‘n ander klub gespeel nie – net vir dié klub. Die hartseer vanaand is, as iets verkeerd loop, is dit Bennie van Rooi, die voorsitter. Ek is nou moeg daarvoor. Dit het nou by die punt gekom dat dit moet stop.” Hy het voorts daarop gewys dat dit veral mense is wat nie eens enige bydrae tot die dorp lewer nie.

Hierna het die Boland-rugbybaas weer met almal aanwesig gepraat. “As jy nie ‘n visie in die lewe het nie, kan jy maar netsowel doodgaan, want dan is jy op pad na nêrens. Rugby se doel is om vriendskapsbande te smee en uit te brei. Dit bring gemeenskappe bymekaar. As jy dit nie kan doen nie, is jy by die verkeerde plek,” meen die president.

“Skep hoop deur op te hou om die skeidsregters dop te hou. Speel rugby en hou op die skuld iemand anders pak,” het Van Rooi gesê voordat hy sy baklei- baadjie uitgetrek het.

Van Rooi het hierna die onderskeie borge van Boland-rugbyunie vir hul enorme bydraes bedank en ook aangekondig nog verwikkelings is vir rugbyklubs op pad. Die rugbybaas het voorts McGregor-RVK met sy vertonings gelukgewens – veral in die tweede ronde van die Grootuitdaagbekerkompetisie. “McGregor, uit my hart as president – baie hartlik geluk. Baie dankie vir die vermaak wat julle verskaf.”

Toe het hy hom weer tot die klub waarvan hy ‘n lid is, gewend. “Ashton United – ek is nou klaar baklei met julle. Bolla, Farrel (verwys na Ashton United-spelers) – julle het alles wat julle moet hê. Daar’s niks wat kortkom nie. Julle moet net begin luister en dan die rugby gaan speel wat die afrigters julle leer.”

Van Rooi se kort boodskap aan albei klubs vir die derbydag was: “Maak die 19de die veld vol en gee die mense plesier.”

Daarna het die klubs se voorsitters, afrigters en A-spankapteins ‘n spreekbeurt gekry. – Norman Evertson

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article