Nege jaar nadat twee verkeersbeamptes van Ashton op klagtes van korrupsie aangekeer is, is hulle saam met ‘n derde man wat betrokke was, gevonnis.
Karel Davids (53), Andile James Dondolo (57) – albei verkeersbeamptes – en Jason Naidoo (59) is Maandag 7 Julie in die Kaapse streekhof aan korrupsie skuldig bevind. Die hof het gehoor dat die polisie in 2016 inligting ontvang het oor twee verkeersbeamptes by die Ashton-verkeersdepartement wat by die uitreiking van vals leerlinglisensies betrokke was.
Die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke, oftewel die Valke, het die saak ondersoek en die twee verkeersbeamptes sowel as die man wat hulle aanvanklik genader het, identifiseer. Hulle is in Augustus 2016 in hegtenis geneem.
Die drie verdagtes was uit op borgtog toe die hofsaak in September 2019 begin het.
Nadat die uitspraak verlede week gelewer is, is hul borgtog teruggetrek en hulle bly in aanhouding totdat hulle op 29 Augustus gevonnis word.




