Die Rawsonville-polisie sê hy volg alle klagtes op, al voel die gemeenskap hul krete word geminag.
’n Lid van die gemeenskap voel die dorp se mense kan nie op die polisie staatmaak nie.
Volgens dié inwoner, wat anoniem wil bly uit vrees vir viktimisering deur die polisie, word mense gereeld geweier om klagtes aan te meld.
“ ’n Paar mans het onlangs ’n drankwinkel beroof, maar die polisie wou nie dat die eienaar van die winkel ’n klagte aanmeld nie. In ’n ander voorval het bendes ook ’n ander kruidenierswarewinkel binnegestorm.
“Mense word eerder geïntimideer wanneer hulle klagtes wil aanmeld, dan sê die polisie hulle gaan ’n saak maak teen jou, want jy mors hul tyd. Hulle is heeltemal buite beheer,” verduidelik die inwoner.
Die inwoner vertel ook van ’n groep minderjariges wat glo vuurwapens op ’n vrou gerig het terwyl sy in haar voortuin gewerk het.
“Die vrou was in haar tuin besig en toe sy opkyk, kyk sy in drie vuurwapens vas. Sy het toe geskree en die kinders het weggehardloop. Maar sy het baie groot geskrik. Sy het onmiddellik die polisie ontbied. Maar toe die polisie heelwat later die aand by haar aankom, het hulle nie eens uit hul voertuig geklim nie. Sy moes buite in die reën en donkerte staan om met hulle te praat. Hulle wou nie die saak vat nie, en het vir haar gesê sy hoort van beter te weet, dat dit nie regte vuurwapens was nie, en dat dit deesdae kultuur is onder die jeug.”
Volgens die Rawsonville-polisie is ’n saak egter teen die minderjariges vir die rig van ’n vuurwapen ondersoek.
“Op ’n ander geleentheid het die inwoner ’n geluid gehoor wat soos skote geklink het. Die inwoner het in die rigting die geluid gery en op dieselfde minderjariges afgekom. Hulle het weer met hul ‘speelgoedwapens’ gespeel. Die inwoner het op die kinders geskree en hulle met ’n sambok aangerand.
“Die minderjariges het toe ’n klagte van aanranding teen die inwoner aangemeld,” het die waarnemende stasiebevelvoerder, kapt. Laetitia Southey, verduidelik.
Verder het sy verduidelik die polisie het die beweerde rooftog by die drankwinkel opgevolg, maar kon geen bewyse kry nie.
Southey vra ook dat gemeenskapslede enige klagte – ook teen polisiebeamptes – by die polisiekantoor moet aanmeld.
“Die kantoor het gemeenskapslede op verskeie platforms aangemoedig om klagtes in te dien, insluitend klagtes teen polisiebeamptes. Gemeenskapslede moet die besonderhede van die beampte wat hul klagte bywoon, sowel as die datum en tyd en besonderhede van die voertuig, aanteken om te verseker dat hul klagtes behoorlik opgelos word.
“Gemeenskapslede word ook aangemoedig om verklarings af te lê,” het Southey verduidelik.




