Baie inwoners het hul misnoeë oor die polisie op die dorp uitgespreek nadat ’n bejaarde man verlede maand in Rawsonville aangerand is.

Die bejaarde man is Saterdag 28 Oktober deur ’n hawelose man met ’n stukkende bottel teen die been gegooi. Gevolglik is die man se hoofslagaar in sy been afgesny en hy moes ’n noodoperasie ondergaan.

Volgens talle inwoners voer ’n groep hawelose mense ’n skrikbewind in die dorp en baie van hulle het al klagtes by die polisie daaroor probeer indien.

“Die polisie het doodeenvoudig gesê dis wetstoepassers se verantwoordelikheid om na sulke klagtes om te sien. Maar hoekom, as ons die klagtes by die polisie gaan indien, kan hulle nie daarna omsien nie? Hoekom trek hulle net die skouer op vir dié soort klagtes? Dis asof hulle die polisiekantoor se syfers wil laag hou,” het ’n inwoner gesê.

Nog ’n inwoner het verduidelik dat die groep haweloses inwoners gedurig op die een of ander manier dreig.

“Die hawelose mense dreig die mense gereeld, gooi klippe heen en weer en ruk glad hul messe uit. Dié goed kom nou al ’n geruime tyd aan. Die polisie bly sê dis munisipale verordenings wat deur wetstoepassing hanteer moet word. Dis nou al by ’n punt waar inwoners te bang is om in die dorp te stop.”

Hy verduidelik ook talle vergaderings is al oor hierdie groeiende probleem met verskeie rolspelers gehou.

“Ons het met mense van die munisipaliteit vergader waar voorgestel is dat ’n munisipale veiligheidsforum gestig moet word, maar verder het daar niks van gekom nie.

“Die gemeenskap het ook nie meer vertroue in die polisie nie. Ons weet regtig nie meer watter kant toe nie.”

’n Ander inwoner meen sewe vergaderings is al gehou in die hoop dat ’n oplossing vir hierdie probleem gevind sal word.

“Ná sewe vergaderings is nog geen oplossing vir die probleem gevind nie. Hier is bitter baie geweld. Selfs ’n onderwyser is op die skoolterrein beroof. Hier is omtrent 130 hawelose mense en die meeste van hulle dra wapens. Die dorp is besig om agteruit te gaan en niemand weet meer wat om te doen nie.”

Volgens die polisie is die verdagte in hierdie saak nie ’n hawelose nie.

Volgens die stasiebevelvoerder, lt.kol. Gonum Munsamy, is die haweloosheid ’n maatskaplik-ekonomiese probleem.

“Hier is tans geen skuiling in die dorp nie. Ek kan nie net mense in hegtenis neem omdat hulle op ’n sypaadjie sit nie.”

Standard & Gazette het die BVM se burgemeester, Antoinette Steyn, gevra of daar enige planne is om ’n skuiling vir haweloses in Rawsonville te bou.

“Ons het in die huidige boekjaar nie geld om ’n skuiling vir haweloses in Rawsonville te bou nie. Ons probeer die mense help; wetstoepassers gaan gereeld na die mense toe. Ons probeer hul families in die hande kry sodat hulle terug huis toe kan gaan, maar dan vra die families vir ons of ons die mense na ’n rehabilitasiesentrum kan stuur voordat hulle hulle sal terugvat by die huis.”

Sy noem ook die kwessie van die haweloses op die dorp is op een vergadering genoem.

“Dit was een van die punte wat bespreek is. Daar was ook ’n groep dominees wat gesê het hulle wil help – hulle het genoem van ’n ou spoorweg- gebou naby die stasie. Ek het aangebied dat die munisipaliteit sou help met die huur van die gebou, maar ons het nie weer terugvoering van hulle ontvang nie. ’n Ander opsie is om die huidige skuiling groter te maak sodat dit meer mense kan huisves. ’n Stelsel sal dan ingestel word waar wetstoepassers gereeld mense hierdie kant toe na die skuiling sal bring.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article