MONTAGU – Die Montagu-polisie wil in die tweede kwartaal verskeie faktore wat bydra tot die hoë voorkoms van diefstal in sy polisiëringsgebied, aanpak.

Daarbenewens wil hulle ook hul fokus verskerp op ongedokumenteerde buitelanders, hul sakepersele (spaza-winkels) asook op die higiëne in hierdie winkels, veral met die oog op produkte waarvan die vervaldatum reeds verstryk het.

Só het lt.kol. Gerrit Wewers, die stasiebevelvoerder van die plaaslike polisiekantoor, op ’n vergadering met Standard & Breëderivier Gazette gesê.

Volgens Wewers toon diefstal ’n besonderse hoë styging vir “ ’n klein dorpie soos Montagu”.

“Diefstal het met meer as 60%, en dus meer as die helfte, teenoor die vorige kwartaal toegeneem. Dis hopeloos te veel vir ’n klein dorpie soos Montagu. Die diewe vat enigiets waarop hulle hul hande kan lê,” sê Wewers.

Daar is egter soms ook ’n mate van nalatigheid aan die publiek se kant, wat dit maklik maak vir booswigte om goedere te steel, sê Wewers.

Hy verduidelik: “Soms word motorhuisdeure oopgelaat terwyl die huisbewoners iewers in die huis besig is. Die boewe stap dan doodluiters in, vat wat hulle in die hande kan kry en laat spaander.”

Hierby is koperdiefstal steeds ’n kopseer vir die polisie.

“Kopertoebehore, krane, pype en diesulkes word summier uit mure geruk.

“Daarby word watermeters deesdae ook kwaai deur die boosdoeners geteiken. Dikwels weet die mense nie eens wanneer hul watermeter gesteel is nie. As hulle hulle kom kry, is hul erwe en tuine sopnat,” verduidelik Wewers verder.

Kapt. Johannes Prins, die hoof van sigbare polisiëring by dié polisiekantoor, sê hulle vermoed daar is onwettige skroothandelaars in die dorp wat ’n mark vir gesteelde goedere skep.

“Ons het slegs een geregistreerde skrootwerf hier. Hy word weekliks besoek en inspeksies word gereeld daar uitgevoer,” voeg Prins by.

Wewers sê verder diefstal by winkels dra in ’n mate ook tot die hoë diefstalaanmeldingsyfer by.

“Winkeldiefstal is ’n misdaadkategorie op sy eie. ’n Winkeldiefstalsaak kan slegs as sodanig geregistreer word indien ’n verdagte tydens die pleeg van die misdryf vasgetrek is.

“Maar wat deesdae dikwels gebeur, is dat veral die groot kettingwinkels, waarvan ons twee in die dorp het, eers in ’n later stadium hul kringtelevisiekameras nagaan en hulle raak dan eers bewus dat ’n diefstal gepleeg is,” verduidelik Wewers sy stelling.

Wewers sê wanneer die misdryf dan aangemeld word, is dit nie meer winkeldiefstal nie (daar is nie ’n verdagte wat op heterdaad betrap is nie), maar eerder diefstal uit die winkel, en dit jaag die gewone diefstalsyfers die hoogte in.

“In ’n poging om die hoë diefstalsyfer af te bring, het ons op ’n bestuursverga­dering besluit in die geval van ’n gewoonte-oortreder, en na gelang van die waarde van die gesteelde artikels/s, sal verdagtes voortaan aangehou word en die speurders hul borgtogaansoeke in die hof teenstaan,” sê die stasiebevelvoerder.

Hulle gaan in die nuwe kwartaal ook sterker fokus op spaza-winkels, maar indirek eintlik op die talle ongedokumenteerde buitelanders en dit waarmee hulle doenig is, voeg die bevelvoerder by.

“Ons het gevind bykans al die sakerooftogte in ons gebied is by die spaza-winkels. Dit is na my mening as gevolg van die feit dat hulle nie geld gaan bank nie.

“Die booswigte is bewus hiervan en dis ’n aantrekkingskrag vir die skurke. Hulle weet daar is groot bedrae geld by van die spaza-winkels,” meen Wewers.

Wewers sê hulle wil voortaan fokus op buitelanders wat onwettig in die land is. Baie van hulle bedryf spaza-winkels op persele wat nie gesoneer is as sakepersele nie. “Hulle doen besigheid op persele wat vir woondoeleindes gesoneer is.”

Hy sê hulle (die polisie) was reeds met die Langeberg-munisipaliteit oor die aangeleentheid in verbinding.

“Ons is besig met die munisipaliteit en hulle gaan deel wees van ons beplande misdaadvoorkomingsoptredes en nuwe strategie wat ons binnekort van stapel gaan stuur.

“Ons verneem daar is mense wat soort van ’n permit of iets dergeliks het, volgens die munisipaliteit.

“Hulle (die munisipaliteit) het onderneem om ons van die lys met name van mense wat permitte het, te voorsien,” sê Wewers.

“Verder gaan ons ook kyk na die higiëne en vervaldatums op goedere in die hordes spaza-winkels.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article