Speurders het een verdagte in hegtenis geneem in verband met die noodlottige skietery op Tulbagh oor die naweek.
Die provinsiale polisie se woordvoerder, kol. Andre Traut het hierdie nuus Woensdag bevestig.
“Die noukeurige ondersoek na die omstandighede wat Saterdagaand in Tulbagh vier manlike slagoffers gedood en nog een beseer het, het gelei tot die inhegtenisname van ’n verdagte gister. Speurders verbonde aan die Wes-Kaapse ondersoekeenheid vir ernstige en geweldsmisdaad het alle leidrade gevolg. Hul soektog na ’n bekende dwelmhandelaar is in die plaaslike Marikana- informele nedersetting gedoen en dit het gelei tot die inhegtenisname van ’n 29-jarige ongedokumenteerde Lesotho-burger.”
Die verdagte verskyn vandag (Donderdag) in die hof op Tulbagh, waar hy sal teregstaan op vier aanklagte van moord en een aanklag van poging tot moord. Die ondersoek na dié massamoord duur egter nog voort en die polisie het die moontlikheid van nog arrestasies nie uitgesluit nie.
Familielede van die slagoffers van die skietvoorval, asook die oorlewendes van die aanval, is na ’n plek van veiligheid geneem voor die polisie die verdagte opgespoor en in hegtenis geneem het.
Die polisie het sedert Sondag ’n sluier van geheimhouding oor die voorval getrek, maar ook ’n beloning van R100 000 vir inligting uitgeloof.
Hulle het wel gesê die voorval hou nie verband met bende- of taxigeweld nie.
’n Onbekende aantal gewapende verdagtes het die afgelope Saterdagaand omstreeks 21:00 op ’n groep mense in Joostestraat geskiet. Vier mans van 30, 32, 33, en 37 jaar oud is dood.
“Die vyfde slagoffer, ’n man, is in die hospitaal opgeneem en drie vroue en nog ’n man is ongedeerd,” het die provinsiale polisiewoordvoerder gesê.
Volgens die plaaslike polisie in Tulbagh mag hulle in hierdie stadium geen spesifieke inligting oor die ondersoek met die media deel nie. Standard het Dinsdagmiddag ’n navraag aan die provinsiale polisie se mediakantoor gerig en gevra of die polisie al weet wat die motief vir die noodlottige skietery is. Volgens ’n inwoner is gerugte dat mense op die dorp onrustig en vreesbevange is, onwaar.
“Mense op die dorp is rustig. Niemand van wie ek weet, is bang of onrustig nie. Dit is duidelik dat daai mense geteiken is en dat die skieters net vir hulle gekom het. Sulke dinge gebeur nie daagliks in ons dorp nie. Niemand weet ook tans wat die rede vir die skietery was nie,” verduidelik die inwoner.
Nick van Huyssteen, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het Dinsdagmiddag gesê hy was vroeër die dag by die polisie en is ook ingelig dat hulle ongelukkig nie hul vertroulike inligting met hom kon deel nie. Hy het ook beaam wat die inwoner gesê het oor hoe rustig die gemeenskap is ná die voorval.
“In hierdie stadium kan die polisie nie hul inligting rakende hul ondersoek met ons deel nie. Ek kan wel sê die Tulbagh-polisie doen uitstekende werk in terme van hoe hulle die ondersoek benader en hanteer. Normaliteit is besig om weer na die dorp terug te keer,” het hy gesê.
“Die GPF betuig sy innige simpatie met familie en vriende van die oorledenes.” Die Witzenberg-munisipaliteit het ’n boodskap van sy uitvoerende burgemeester, Hennie Smit, waarin hy sy medelye betoon, op sy Facebook-blad gedeel. . Mense word gevra om brig. Makhaya Mkabile by 082 222 6744 of kol. Bonginkosi Libaya by 082 411 2042 te bel.





