Ek groet u in die oorwinningsnaam van ons Koning Jesus, wat gekruisig is, maar opgestaan het en lewe!

Dit is ’n groot voorreg vir my, Danver Olsen, om vir die derde agtereenvolgende jaar Worcester Perseverance se voorsitter te wees en saam met die klub geskiedenis te kan maak om vir die derde keer in ’n ry die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se jaarlikse Easter Clash aan te bied.

Young Hamiltons en Perseverance het oor die jare heen goeie rugbyvriendskappe opgebou en saam met Leinad Bailey, voorsitter van Hamiltons, en bestuur was dit altyd plesier om rugby te administreer en rugbydae wat Worcester verenig het te kon organiseer!

Leinad het nuwe asem in Hammies geblaas met sy unieke leierskapstyl, en met sy goeie, positiewe gesindheid het hy altyd op sy beskeie manier die ekstra myl geloop sodat die derbywedstryd tussen Persies en Hammies vir die derde keer agtervolgens kan realiseer in 2016, en ons as rugbygemeenskap ’n rugbystandpunt kan inneem teen euwels soos dwelmmisbruik en bendegeweld. Well done, Mr B!

Baie dankie aan al die duisende ondersteuners van Hammies en Persies wat Paassaterdag hulle klubs en rugby in ons dorp so fantasties ondersteun het en sodoende rugby na ’n beter en hoër vlak geneem het.

Baie dankie aan die burgemeester van die KWDM en die direkteur van gemeenskapsontwikkeling, Claude Schroeder, wat uit sy pad gaan om hierdie rugbydag moontlik te maak vir voorheen benadeelde gemeenskappe, veral skole, wat aan die dag deelneem. Die KWDM bestee miljoene om ons mense uit te bou en geleenthede te gee wat hulle nooit sou droom sien gebeur nie.

Baie dankie, mnr. Schroeder en rugbyman, burgemeester Neels de Bruyn, en die raad van KWDM wat hierdie inisiatief nooit sal laat uitsterf nie.

Die beste span sal wen, maar rugby in Worcester sal seëvier.

Geniet die Paasnaweek en weet dat die Seun van God gekruisig is vir ons sonde maar dat Hy opgestaan het en dat ons ons lewe in oorvloed kan geniet.

Danver Olsen

Klubvoorsitter

Worcester Perseverance

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article