Worcester Perseverance het die span van die Breërivier behoorlik laat les opsê – boonop in dié se agterplaas.

Persies, wat vanjaar in die Streekuitdaagkompetisie van Boland meeding, het die skare van meet af aan met goeie hardlooprugby vermaak. Persies het met goeie samespel deur die voorspelers onder die pale gaan druk, wat ook verdoel is, met die telling 7-0.

Breërivier het daarin geslaag om drie punte aan te teken nadat Persies ’n fout begaan het. Kort daarna het die tuisspan oorgegaan vir ’n drie wat ook verdoel is.

Persies het hard teruggeslaan en ná ’n goeie agterlynbeweging nog ’n drie gedruk, wat die telling na 14-10 laat aanskuif het. Toe spel hervat is, het Persies se sterk voorry die bal uit sy eie gebied gedra om nog ’n drie te druk, wat die rustydtelling op 21-10 te staan gebring het.

In die tweede helfte het Persies die krane behoorlik oopgedraai en die bal goed versprei om ook sy vierde (en) bonuspunt-drie aan te teken.

Dit het ook die eindtelling op 26-13 te staan gebring.

Vir Persies was dit voorlangs sy kaptein, Granville Willemse, en Bevan Malapi wat goed vertoon het, terwyl die losskakel, Keaton Klink, met sy goeie skopwerk uitgeblink het.

Persies se naasbestes was ook aan die wenkant met 21-7.

Eerskomende Saterdag speel Persies tuis teen Orchard.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article