Die ouers van leerders wat volgende jaar in gr. R, gr. 1 of gr. 8 gaan wees, word aangemoedig om hul aansoeke so gou as moontlik in te dien.
Elke jaar word duisende leerders op die eerste skooldag huis toe gestuur omdat hulle nog nie in ‘n skool geplaas is nie – meestal weens aansoeke wat laat ingedien is.
Die aansoektydperk vir 2027 het op Dinsdag 10 Maart geopen en sluit oor ‘n maand op Dinsdag 14 April.
Christel Erasmus van Worcester Gimnasium sê dit is baie belangrik dat leerders by meer as een skool aansoek doen en nie net hul eerste keuse nie. “Worcester Gimnasium het verlede jaar 948 aansoeke vir gr. 8 ontvang, maar het slegs plek vir 200 leerders gehad.”
Huistaal is voordelig
Liezel van der Westhuisen, die hoof van Laerskool Wynland, sê hulle het in die vorige jaar 600 aansoeke vir gr. R en gr. 1 ontvang, maar net ‘n beperkte aantal plekke beskikbaar gehad. “Ouers word vriendelik aangemoedig om hul kinders in te skryf in die huistaal wat die gesin gebruik. Dit is tot voordeel van die kind se akademiese ontwikkeling en vordering. Toelating geskied nie op ‘n “eerste aansoek, eerste plek”-beginsel nie. Alle aansoeke word streng volgens die skool se toelatingsbeleid, in ooreenstemming met die Skolewet, oorweeg en verwerk,” het sy gesê.
Volgens Chelvenia Lottering van Somerset High School in Worcester het hulle vier Engelse klasse en twee Afrikaanse klasse vir graad agt’s. Hulle het tans 228 gr. 8-leerders en beplan om vir die 2027-skooljaar 240 leerders te aanvaar. Somerset High het ‘n groot aanvraag vir plasings omdat daar min Engelse hoërskole in die omgewing is.
Ouers se verantwoordelikheid
David Maynier, die Wes-Kaapse minister van onderwys, het in ‘n persverklaring gesê dit is die ouers se verantwoordelikheid om te verseker hul aansoeke vir toelating word betyds ingedien. “Dit is belangrik om in hierdie tydperk aansoek te doen om te verseker dat jou kind in die eerste ronde aansoeke oorweeg word en om die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) te ondersteun in hul beplanning vir die 2027-skooljaar,” het hy gesê.
Aansoeke wat laat ingedien word, bemoeilik die Wes-Kaapse departement van onderwys se werk om hul beplanning vir die 2027-skooljaar te doen.
Die volgende dokumentasie is nodig om ‘n kind in te skryf: Die leerder se mees onlangse amptelike skoolrapport, ‘n gesertifiseerde afskrif van sy of haar ID of geboortesertifikaat (buitelandse studente benodig ‘n paspoort, studiepermit, bewys van aansoek om ‘n permit of ‘n afskrif van die ouer se asiel- of vlugtelingpermit). Indien ‘n ouer nie bewys van identiteit vir die leerder het nie, kan ‘n beëdigde verklaring van die polisie af ingedien word.
Vir laerskool-aansoeke moet die leerder se inentingkaart ook ingedien word.
‘n Dokument wat as bewys van woonadres dien, moet ook ingedien word (soos ‘n munisipale rekening, huurooreenkoms of ‘n beëdigde verklaring.)
Die inskrywing word op die departement se webwerf gedoen by https://www.westerncape.gov.za/education/service/learner-admissions
Ouers kan toegang tot die platform kry sonder dat selfoondata benodig word.
Die webwerf bied stap-vir-stap-verduidelikings asook video’s wat wys hoe die inskrywing gedoen moet word.
Tydelike skooltoelatingskantore sal ook oor die provinsie heen opgerig word om ouers wat met die aanlyn inskrywing hulp nodig het, te ondersteun.
Inligting oor dié kantore sal op die WKOD se webwerf beskikbaar gestel word.




