’n Mens kan jou doelwit bereik deur sekere doelstellings te stel en daarby te hou. Foto: Getty Images


Elke jaar het jy dieselfde Nuwejaarsvoornemens, net om teen Valentynsdag tou op te gooi. Hier is vyf wenke om jou kans op sukses te verbeter.

1. Fokus op die reis, nie die bestemming nie.

Wanneer jy ’n doelwit stel, is dit baie maklik om behep te raak met die “magiese” einde wanneer jy die doelwit bereik het en jou lewe ewe skielik volmaak gaan wees.

Ons kan egter nie die omstandighede tydens ons reis na die doelwit beheer nie. Ons moet stadig, maar seker, voetjie vir voetjie die doelwit benader.

“Mense verloor dikwels perspektief van hul doelwit en dink hulle moet dadelik alles verander,” sê dr. Kelly McGonigal, ’n sielkundige van die Stanford-universiteit in Amerika.

“Klein veranderinge kan egter die weg vir groter veranderinge baan. Vra jou af: Wat is die kleinste dingetjie wat ek vandag kan doen wat my sal help om my doelwit te bereik?”

As jy byvoorbeeld skaam is en jou doelwit is om meer sosiaal in die nuwe jaar te wees, kan jy begin om ’n kollega se uitnodiging vir middagete te aanvaar of om iemand spontaan te groet. Volg dan net die broodkrummels van daar af. Een klein keuse kan ’n positiewe kettingreaksie ontlok.

Jy kan baie klein veranderinge in jou lewe maak wat ooreenstem met jou groot doelwit, meen McGonical.

As jou daaglikse keuses kollektief bydra tot jou sleuteldoelwit, sal jy dit uiteindelik bereik, hoewel dit glad nie mag voel of lyk soos jou oorspronklike doelwit nie.

2. Weet dat jy gaan faal (maar hou aan probeer).

Dit is dikwels onmoontlik om met jou eerste probeerslag te slaag en dit is hier waar talle moed opgee. Ons laat vaar ons planne om fiks te word nadat ons ’n paar sessies in die gimnasium misgeloop het of ons hou op om gesond te eet nadat ons onsself oorgegee het aan ’n stuk sjokoladekoek of ’n hamburger.

“In daardie oomblik wanneer ons misluk, is ons eerste instink om tou op te gooi met ons doelwit. Dit is ’n ongemaklike plek om te wees, daardie oomblik waar jy in jouself twyfel en onderworpe is aan selfhaat en skuldgevoelens,” sê McGonical.

Om tou op te gooi is ’n maklike manier om onsself so gou as moontlik van die gevoelens te distansieer. Jou taak is nie om mislukkings te vermy nie, maar om daarvoor te beplan.

Vra jou af: Wat gaan veroorsaak dat ek misluk? As jy byvoorbeeld op ’n dieet is en geneig is om ongesonde maaltye te kies, dra ’n pakkie biltong of neute in jou handsak wat die hongerpyne kan stil totdat jy iets gesond kan kies. Sielkundiges noem dit ’n “as/dan”-noodplan of “as dit gebeur, gaan ek dat doen”. Dit is ’n geestelike plan vir hoe jy in situasies wat jou kan pootjie, gaan reageer.

3. Hou jou voornemens vir jouself

Dit het mos sin om te dink jy sal jou kans op sukses vergroot deur jou voornemens aan almal te verkondig. Dit voel amper asof jy nou aanspreeklik gehou kan word vir jou aksies.

Dink weer.

“Verskeie studies wys wanneer jy mense van jou doelwitte vertel, jou kans verminder om hulle deur te voer. Wanneer jy iemand van jou doelwit vertel, skep jy iets wat sielkundiges ’n ‘sosiale werklikheid’ noem,” sê die TED-motiveringspreker Derek Sivers.

“Jou brein word gefop deur te dink jy het reeds jou doelwit bereik wanneer jy dit hardop aan iemand vertel.”

En dink daaroor, daar volg ’n sekere gevoel van tevredenheid wanneer jy jou planne met iemand deel.

“Dit is as gevolg van die gevoel dat jy nou minder gemotiveerd is om die harde werk in te sit,” sê hy.

Wera Mahler, ’n Duitse sielkundige, het reeds in 1933 die verskynsel ondersoek en agtergekom as iets deur jou portuurgroep erken of bevestig word, dit deur jou brein as ’n realiteit beskou word, selfs al het jy dit nog nie deurgevoer nie.

Sivers sê jy moet waak teen die kitsbevrediging wat sosiale erkenning vir jou bring. As jy wel oor jou doelwitte wil praat, let op jou taal.

Pleks van om te sê: “Ek gaan vanjaar die Twee Oseane-wedloop hardloop”, sê eerder: “Ek wil graag vanjaar die Twee Oseane-wedloop hardloop, maar dan moet ek vyf keer per week oefen om dit ’n werklikheid te maak.”

4. Kry eers jou kop reg

Ons kan nie ons optrede verander sonder om die manier hoe ons dink, ook te verander nie.

Die Grieke het gepraat van acrasia, ’n paradoks waar jy graag iets positiefs wil doen, maar dit nie deurvoer nie as gevolg van ’n swak gemoed.

Ons misluk dikwels omdat die voordele van ons positiewe aksies vertraag is en ons ongeduldig is.

Jy wil oefen, maar kan nie dadelik die goeie resultate daarvan sien nie, dus vertel jy jouself jy sal dit later doen. Akrasie is die rede waarom ons uitstel en dit is die rede waarom ons anders moet dink oor hoe ons ons doelwitte kan bereik.

Neuroloë het reeds deur die gebruik van breinskanderings bepaal dat ons gewoontes gevorm word deur denkpatrone wat neurologiese paadjies en herinneringe in ons brein vorm. Dit word die basis van jou gedragspatrone wanneer jy met ’n keuse gekonfronteer word.

As jy dus ’n positiewe verandering, soos ’n suksesvolle oefenroetine, in jou lewe wil bring of ’n slegte gewoonte wil laat vaar, verander die manier hoe jy daarna kyk. Moenie dit as ’n opoffering of las beskou nie, sien dit as ’n geleentheid om jou gesondheid te verbeter. Dit is ’n voorreg wat baie van ons dikwels as vanselfsprekend ervaar.

5. Stel realistiese doelwitte

Pinterest en selfhelpboeke is vol pseudo-sielkundige gesegdes soos “Mik vir die maan en jy sal tussen die sterre beland”, maar dié tipe raad doen eintlik meer kwaad as goed. Wanneer ons onrealistiese doelwitte vir ons stel, is dit ’n resep vir mislukking. Dit maak dit ook vir jou moeiliker om jou toekomstige doelwitte en aspirasies te bereik.

Die manier hoe ons ons eie realiteit ervaar, is ’n produk van ons gesamentlike ervarings. As jy dus die hele tyd aanhou om te misluk en nie ’n spesifieke doelwit kan bereik nie, gaan jy later glo jy is ’n mislukking. Die illusie is die gesamentlike produk van onrealistiese doelwitte wat nooit bereik is nie.

Beteken dit dat jy nie groot kan droom nie? Glad nie. Dit beteken net dat jy daardie doelwit moet benader soos jy ’n olifant sou eet: happie vir happie.

As jy die Comrades wil hardloop, moenie sommer al die eerste dag 20 km probeer hardloop nie. Begin klein en werk elke week ’n klein bietjie harder.

. Bron: www.ted.com, www.elitedaily. com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article