Alle vroue loop die risiko om borskanker te kry.
Om lewens te red, het die Worcester-hospitaal se radiografie-span planne gemaak sodat meer vroue wat vir mammogramme verwys word, vinniger gehelp kan word.
Die afgelope tyd het hul wagtydperk vir ’n mammogram-afspraak van ’n maksimum van 40 dae tot ’n maksimum van 20 dae verkort. Met Vrouemaand sê Wes-Kaap Gesondheid en Welstand dankie aan spanne soos hierdie wat alles insit om vroue se welstand te bevorder.
Die radiografiespan gee ondersteuning aan binne-pasiënte, buitepasiënte, ongevallepasiënte asook enige pasiënt van die omliggende gebiede wat ’n spesiale radiografie-diens benodig. Onder leiding van Elindi Dreyden bedien hulle tot 160 pasiënte per dag. Sy is baie trots op haar span wat, ten spyte van die werkslading, kans gesien het om nuwe planne te maak sodat vroue wat vir mammogramme en bors-sonars verwys word, vinniger ’n afspraak kan kry.
Dokters gebruik ’n mammogram (’n spesiale X-straal-ondersoek) om te help met die diagnose van borskanker. Hoe gouer die diagnose gemaak word, hoe gouer kan behandeling begin en lewens gered word. Volgens die Kankervereniging van SA ontwikkel 1 uit 27 vroue in hul lewe borskanker.
Die span het in 2022 ’n studie begin, data nagegaan en ’n nuwe mikpunt vir hulle gestel: om die wagtydperk vir ’n afspraak te verkort tot ’n maksimum van 20 dae. ’n Paar jaar gelede was die wagtydperk tot vier maande. Die span kon dit mettertyd verkort tot ’n maksimum van sowat 40 dae, maar hulle wou verder verbeter hierop, en hulle het. Hulle het ’n vergadering gehou en almal het ingestem om ’n nuwe aanslag te volg, al sou dit heel waarskynlik beteken dat hulle oortyd moes werk.
Mammogramme en bors-sonars word gewoonlik Dinsdae en Donderdae gedoen wanneer ’n radioloog beskikbaar is om die uitslae te interpreteer. Die span het aanvanklik agt mammograme op elk van hierdie dae gedoen en dit tot 18 op die onderskeie dae vermeerder. Waar moontlik help hulle ook pasiënte wat nie op ’n Dinsdag of Donderdag vir ’n mammogram beskikbaar is nie, asook onbespreekte pasiënte.
Hul data het gewys dat sowat 30% van pasiënte daag nie vir hul afsprake op nie. Die span het begin om pasiënte te bel om seker te maak of daar iets is wat van die hospitaal se kant af gedoen kan word om dit te verhoed. Dit is kommerwekkend as iemand nie kom vir hul mammogram nie, sê Elindi, want die meeste kere dat ’n mammogram deur ’n gesondheidswerker versoek word, is dit dringend. Die hospitaal het gesofistikeerde tegnologie en ’n span wat die diens bou rondom pasiënte, maar lewens kan net gered word as pasiënte opdaag vir hul mammogramme en verdere leiding volg.
Hulle is trots om te sê hulle het hul doel bereik.
“Ons sit alles in. Al is ons besig, is die geheim om nie haastig te wees nie,” sê Elindi. “Hierdie diens is baie persoonlik. Ek het verlede jaar ’n tannie vir wie ek baie lief was, aan borskanker verloor,” sê sy. “Ek is ’n ma. Ek het ’n ma. Ek het twee sussies en twee dogters. Vir ons is dit nie net ’n pasiënt wat hier instap nie. Dis my susters, my ma, my tannies . . .
“Hoe gouer jy kom vir die mammogram, hoe beter ook vir jou geestesgesondheid. Dan weet jy wat daardie knop is en personeel help jou met die volgende stappe.”
Gesondheidswerkers beveel aan dat vroue elke maand hul borste ondersoek op die dag ná hul menstruele siklus. As jy tekens soos hierdie opmerk, moet jy na jou naaste kliniek gaan: . Veranderinge aan die bors of tepel se voorkoms of grootte;. Knoppe of swelling in jou borste of die kliere onder jou arm;. Veranderings aan die bors se vel;. Pyn of gevoeligheid aan die bors of tepel;. Afskeiding uit die tepels.
“Ek het ’n wenspan. Soos enige werk het jy uitdagings, maar ons het dieselfde doelwit. Hulle is toegewyd,” sê Elindi.




