Inwoners stroom in Worcester se strate af tydens 'n vorige Paasbasaar.
Worcester se paasbasaar is ‘n jaarlikse instelling.

Worcesteriete en diegene wat bande het met die dorp kan solank begin opwarm vir die jaarlikse Nekkies Easter Music Festival wat van môre (18 April) tot eerskomende Maandag by die Nekkies-vakansie-oord aangebied gaan word.

Vanjaar se fees pronk met ‘n indrukwekkende lys van meer as 40 musiekkunstenaars wat feesgangers oor die volgende vier dae tot laataand gaan vermaak.

Hulle sluit onder meer in Jamali, Nasty C, Mafikizolo, Dr Victor & The Rasta Rebels, YoungstaCPT met Grandmaster Ready D en Salome.

Raymond Esau, die direkteur vir strategiese dienste by die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), sê die fees het sedert sy ontstaan in 2018 so gewild geword dat selfs internasionale musiekkunstenaars hom genader het vir ‘n plekkie op die verhoog.

Die jaarlikse Nekkies Easter Music Festival en immergewilde Paasbasaar is verlede Woensdag (9 Aprl) by ‘n glansgeleentheid by die Golden Valley Casino in Worcester aangekondig.

Esau sê die grootste uitdaging met betrekking tot internasionale musiekkunstenaars is gewoonlik die vlugkostes wat gedek moet word.

Die Nekkies Easter Music Festival lok mense van heinde en verre om na topkunstenaars te kom luister. Foto: Facebook/Nekkies Easter Music Festival

“Dit is net nie haalbaar om sekere goed in hierdie stadium te doen nie, want ons probeer ons kaartjiepryse so bekostigbaar as moontlik hou. As jy groter kunstenaars wil kry, moet jy jou kaartjiepryse lig. Ons het baie plaaslike kunstenaars – insluitend hier in die Breedevallei – wat uitstekende talent het en nie hoef terug te staan vir enige internasionale kunstenaar nie.”

Ander aktiwiteite by die fees sluit onder meer karnavalritte vir kinders in. Kaartjies hiervoor kos tussen R30 en R80. Vir die kleiner kinders is daar ‘n sagte speelplek. Ouers hoef glad nie bekommerd te wees nie, want streng toesig sal gehou word.

Voorts is feesgangers welkom om hul koelbokse met lafenisse saam te bring. ‘n Biertent en kosstalletjies is beskikbaar.

Volgens Esau word sowat 10 000 mense per dag oor die volgende vier dae by die fees verwag.

“Omdat daar verlede jaar amper nie genoeg parkeerruim- te by die fees was nie weens al die motors wat ons daar gehad het, vra ons feesgangers om gebruik te maak van saamrygeleenthede sodat die parkeerdruk nie so groot is nie. So kan meer feesgangers ontvang word.”

Esau sê die saamrygeleent- heid-opsie geld almal wat nog nie ‘n parkeerkaartjie het nie.

Volgens hom gaan navorsing met betrekking tot die ekonomiese impak van die fees oor die volgende vier dae by die fees gedoen word. Onderhoude sal onder meer in dié verband met feesgangers gevoer word.

Esau doen ‘n beroep op feesgangers om die reëls wat by die fees geld, te eerbiedig ten einde ‘n genotvolle atmosfeer en veili-

ge omgewing vir almal te skep.

Die feestye is soos volg: Môre van 14:00 tot 21:00, Saterdag van 14:00 tot 22:00, Sondag van 12:00 tot 22:00 en Maandag van 12:00 tot 20:00.

Die Paasbasaar begin Maandagoggend om 08:00 en sal tot 13:00 duur.

Kaartjies vir die fees is by enige Pick ‘n Pay winkel, Pick ‘n Pay-drankwinkels en Boxer-winkels te koop. Kaartjies kan ook aanlyn via Webticket gekoop word.

‘n Naweekpas (weekend pass) vir volwassenes wat die fees van môre tot Maandag wil bywoon, kos R120. Indien jy toegang tot die perseel met jou motorvoertuig wil hê, sal jy nog R120 moet opdok.

‘n Naweekpas vir kinders tussen die ouderdom van ses en 12 is R80. Naweektoegang vir kinders onder die ouderdom van ses is gratis.

Toegangsgeld vir diegene wat die fees net môre wil bywoon. is R20 vir volwassenes en kinders. Feesgangers sal ‘n verdere R20 moet opdok om toegang tot die fees met hul motorvoertuie te kry.

Toegangsgeld vir Sondag en Maandag is R60 vir volwassenes en R40 vir motorvoertuie. Kinders tussen die ouderdom van ses en 12 betaal R30. Voorts is toegang gratis vir kinders onder die ouderdom van ses jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article