Ons leef in ’n gedurig snel-veranderende wêreld waar die geldgod soveel waardes en norme wat heilig en kosbaar is en wat gesinne en gemeenskappe positief gebind het, net eenvoudig tragies vernietig is.

Paasnaweek, wat vir Christen-gelowiges die hoogtepunt van die kerkkalender is, was die afgelope naweek eweneens ’n bevestiging van bogenoemde.

Geen moeite en koste is ontsien om die behoeftes van die plesiergod te bevredig nie! Alles is in die stryd gewerp om mense se teenwoordigheid en geld na die Nekkies-fees te trek, ten koste van die tradisionele Paasmaandag-basaars wat sedert 1898 vir die Christelike gemeenskap in Worcester ’n viering van die opstanding van Christus was en waarvan die inkomste uit die verkope ’n lewensbelangrike voedingsaar was om kerklike aktiwiteite te finansier.

Die Nekkies-fees het niks in gemeen met Paasfees as fees van gelowiges nie. Dit gaan uit en uit oor geldmaak en ’n plesierige vermaak, maar dit laat ’n duidelik sigbare knou in die inkomste van kerke.

En dit vir wat? Wie baat daarby?

Worcester is wêreldwyd bekend vir sy Paasmaandag-tradisies en van oraloor kom mense om dit te beleef. Dis eie aan Worcester – ’n handelsmerk – alhoewel mense wat nie deel hiervan was of is nie, dit seker nooit sal begryp nie.

Musiekfeeste vind ’n mens oraloor en heel jaar.

Pleks van om skaamteloos op die rug te ry van ’n wonderlike tradisie en die sukses en roem van die basaars, wat oor meer as ’n eeu beslag gekry het hier, waarom eenvoudig nie ’n ander naweek identifiseer vir die Nekkies-vermaak nie?

Daar is sekerlik ’n tyd en plek vir albei.


C. P. Beukes,

Worcester

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article