Luwayne Khani (flank) van McGregor RVK (McGelly) bars deur Villagers Montagu (Sesduim) se verdediging tydens dié twee spanne se tweederondte-Grootuitdaagbekerligawedstryd op die McGregor sportterrein. Khani wat die besoekers baie besig gehou het, is hier oppad doellyn toe vir sy span se eerste drie. McGelly het altesaam nege drieë gedruk en die kragmeting met 58-38 gewen. Foto: Norman Evertson

McGREGOR. – Die McGregor-rugbyvoetbal-klub, of McGelly vir sy ondersteuners, het Saterdag (12 Julie) Villagers Montagu, ook bekend as Sesduim, in ‘n tweederonde- Grootuitdaagbekerligawedstryd 58-38 verslaan.

Die eindtelling is nie heeltemal ‘n getroue weergawe van die wedstryd nie. Dit skep die indruk dat McGelly uit die staanspoor die hef in die hand gehad het, wat nie die geval was nie. Sesduim het ‘n hengse geveg gevoer. Die tuisspan, wat tans goed op dreef is sedert hy die verdedigende Bolandklubkampioen, Robertson Town, vroeër die loef afgesteek het, het eers in die tweede helfte van die wedstryd in rat gekom en toe op alle silinders gevuur.

In die eerste helfte het die wedstryd wipplank gery soos wat die spanne om die beurt punte aangeteken het. Teen rustyd het die besoekers die pas 24-22 aangegee, maar McGelly het eerste punte op die telbord gehad nadat Luwayne Khani (flank) gaan druk en Reagan Jagers (heelagter) verdoel het om hul span ‘n 7-0-voorsprong te gee. Sesduim het daarna met twee drieë, waarvan een verdoel is, teruggeslaan en die leisels 12-7 oorgeneem. Asisipho Jucwa (ha- ker) en Jordan Snyman (losskakel) het vir die besoekers gedruk. Snyman kon egter slegs sy eie drie verdoel.

Olé Appollis (skrumskakel) van McGelly het hierna vir ‘n onverdoelde drie oorgegaan en die telling was 12-12. Minute later het Jagers met ‘n strafdoel weer die voortou aan sy span besorg nadat Sesduim vir ‘n hoogvat gestraf is (telling 15-12). Nie lank hierna nie het Sesduim weer sy neus voor gekry toe sy haastige linkervleuel, Jack van Wyk, ná ‘n praglopie agter die doelpale afgerond het. Snyman het die maklike doelskop oorgeklits en die telling 19-15 gemaak. Sesduim het sy voorsprong hierna verder gerek toe Immanuel Pietersen (heelagter) in die linkerhoek oor is (24-15).

Net voor rustyd het Jovean Jordaan (senter) van die tuisspan vir ‘n vyfpunter, wat deur Jagers verdoel is, deurgesuiker om die rustydtelling op 24-22 te staan te bring – die besoekers nog ‘n kortkop voor.

Enkele minute nadat spel vir die tweede helfte hervat is, het McGelly weer die leisels oorgeneem toe Lee-Aurlen Swarts (vleuel) gaan druk het (27-24). Sesduim het teruggeslaan met Pietersen se tweede drie. Snyman se doelskop was in die kol en die besoekers het vir die soveelste keer weer die voortou geneem (31-27).

Jagers het hierna self gaan druk, sy eie drie verdoel en daarmee weer die leisels met 34-31 aan McGelly besorg. Van toe af het die gety begin draai.

Die tuisspan het die een aanval na die ander van stapel gestuur en telkens die bal vinnig in die agterlyn afgeskuif. Dit het tot twee drieë kort na mekaar gelei. Eers het Davino Arendorf agter die besoekers se doellyn gaan kuier en daarna is Swarts ook oor vir sy tweede drie. Slegs Swarts se drie is verdoel.

Meteens was die telling 46-31 in McGelly se guns. Hoewel tyd teen hom was, het Sesduim nie gaan lê nie. Ulfred Terblanché (agtsteman) het ná ‘n kragtige skrum op die tuisspan se doellyn oorgeval vir die besoekers se sesde drie. Snyman se suksesvolle doelskop het die telling na 46-38 geneem.

McGelly was egter soos ‘n wegholstoomtrein en het nog twee drieë ingeryg. Clement Hamilton en Jershvin Cupido (losskakel) het gaan druk. Net Cupido se drie is verdoel, wat die eindtelling op 58-38 te staan gebring het. – Norman Evertson

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article