Sesduim terug op wenpad ná harde stryd

Ulfred Terblanché, ’n plaasvervanger-losvoorspeler van Sesduim, hardloop met die bal. Links van hom is sy spanmaat en kaptein, Bernard Swarts.Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Villagers Montagu, oftewel “Sesduim”, soos die span algemeen bekendstaan, is ná twee agtereenvolgende nederlae weer op die wenpad.

Toe die rugbykompetisies ná die Paasfees-pouse hervat is, het Sesduim, wat voor die Pase nog nie verloor het nie, sommer ’n dubbele dosis nederlae geproe toe hy eers teen Young Hamiltons en daarna teen die voorloper in die Breë-Langebergstreek, Robertson Town, pak gekry het.

Saterdag (20 April) het Sesduim egter sy wiele weer op die wenpad gekry toe hy Bonnievale United, ’n nuweling in die Grootuitdaagbekerkompetisie, op die King Edward-sportterrein met 45-25 kafgedraf het.

Die besoekers was reg van die begin af onder geweldige druk toe die tuisspan hulle in hul kwartgebied met ’n aantal optel-en-dryffases bestook het.

Dillin Williams, Bernard Swarts en Jeffrey Erasmus het in die eerste helfte Bonnievale se doellyn oorgesteek, terwyl Liam Pekeur twee doelskoppe deur die pale gejaag het.

Op sy beurt het Bonnievale se Bradley Riekers en Emilio Lombaard in dieselfde tydperk elk ’n drie aangeteken om toe te sien dat hul span mededingend bly.

Die rustydtelling was 19-10 in Sesduim se guns.

In die tweede helfte het die spanne om die beurt drieë aangeteken.

Sesduim het egter ’n houvas op die wedstryd gekry met vyfpunters deur Pekeur, Wayne Plaatjies en Ronaldo de Koker.

Pekeur het twee hiervan verdoel.

Hierby het die skeidsregter, Jabian Jaftha, ook ’n strafdrie aan die tuisspan toegeken nadat Bonnievale, wat in die skrums swaar geleef het, op ’n onwettige manier verhoed het dat Sesduim ’n oorstootdrie behaal.

Jaftha het die oortreder met ’n geelkaart van die veld gestuur.

’n Begeesterde Bonnievale, wat deurgaans inhaalrugby moes speel, het egter nooit tou opgegooi nie.

Hy het in die tweede helfte met sy terugvegpoging nog twee drieë, ’n doelskop en ’n strafdoel aangeteken.

Beide spanne het reg deur die kragmeting nie geskroom om die bal lug te gee nie.

Dit het egter ook tot talle hanteerfoute gelei, wat die moontlikheid op punte gekortwiek het.

Op die ou end het Sesduim dié opwindende wedstryd gemaklik met 45-25 gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article