Die Kaapse Wynland-hoofwegpatrollie het daarin geslaag om ’n gekaapte vragmotor terug te kry en een verdagte in hegtenis te neem – dít nadat verdagtes met vuurwapens op die polisie losgebrand het.
Die drama het Sondag 30 Oktober omstreeks 21:20 ontvou toe die bestuurder van ’n vragmotor by die De Wet-afdraai op die N1 stilgehou het om homself te verlig.
Terwyl die bestuurder buite die vragmotor gestaan het, het vyf onbekende mans hom genader. Vier van die mans het voor hom gestaan en een agter hom.
“Die mans het vuurwapens uitgeruk en hom in die trok gedwing. Een van die mans het die trok toe bestuur en iewers op ’n onbekende plek stilgehou. Ons verneem dat die bestuurder oorgelaai is in ’n ander voertuig, want hy is minute later in ’n motor op die R43-pad in die rigting van Ceres gevind,” sê AO Vathiswa Jacobs van Worcester-polisie.
Volgens lede van Kaapse Wynland-hoofwegpatrollies het hulle patrollie op die N1 gedoen toe hulle op ’n verlate vragmotor afgekom het by die kruispad van die N1 wat afdraai na die R43 Wolseley/Ceres-pad sowat 2 km buite Worcester.
“Dit was ’n vragmotor met twee sleepwaens. Die polisie het toe ’n nommer gekontak wat op die trok geplak is en met die eienaar van die vragmotormaatskappy gepraat. Volgens die eienaar van die maatskappy wat gesetel is in Johannesburg, het hy ’n ruk vantevore probeer kontak maak met die vragmotorbestuurder. Die polisie het toe die trok en sleepwaens ondersoek en agtergekom daar is met die vrag gepeuter. Hulle het ook ’n koue, oop bier langs die vragmotor gekry,” sê Jacobs.
Op daardie oomblik het die polisiebeamptes ook ’n wit Toyota Corolla-voertuig opgemerk wat ’n vinnige U-draai in die pad gemaak het. Polisiebeamptes het toe dié voertuig op die R43 agternagesit. Nadat hulle ’n wyle agter die voertuig aangejaag het, kon hulle daarin slaag om die voertuig af te trek. Die voertuig het stilgehou en ’n onbekende man het by die linkerkantse deur agter uit die voertuig geklim. Die genoemde passasier wou op daardie stadium urineer. Die polisie het hom toe opdrag gegee om terug te gaan na die voertuig en om sy hande op die dak van die voertuig te plaas.
“Die volgende oomblik het vier onbekende mans uit die voertuig gespring en twee van hulle het op die polisie geskiet. Die polisie het teruggeskiet. Die vier verdagtes het in die chaos van die skietery die bos ingehardloop en verdwyn. Polisiebeamptes het toe een onbekende man gevind wat op die agtersitplek van die voertuig gelê het.”
Die beamptes het toe skielik ’n harde klapgeluid in die bagasiebak van die genoemde voertuig gehoor. Toe hulle dit oopmaak, het hulle ’n mens in die bagasiebak gekry wat homself as die vragmotor se bestuurder wat minute vantevore gekaap is, geïdentifiseer het.
Die voertuig is deursoek en vals nommerplate, ’n sak met Zimbabwiese paspoorte en afskrifte van Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente is gevind.
Een verdagte is vir vragmotorkaping, poging tot moord en bedrog in hegtenis geneem. Sodra hy aangekla is, sal hy in die landdroshof in Worcester verskyn.




