Vroetelmoue help om hierdie pasiënte se rusteloosheid te tem en voorsien selfs ure se stimulasie en pret.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

Net soos ’n kind wat deur ’n kombers of speelding gesus word, word iemand wat met demensie of alzheimersiekte leef deur ’n sogenaamde “vroetelmou” gesus.

Helpende Hand het weer vanjaar ’n Breinaald-projek van stapel gestuur waarin die gemeenskap vroetelmoue brei om pasiënte soos dié se gemoedere te streel.

“Die hele land se mense was gaande oor die projek en mense in werkskomplekse, skole en tehuise het saam gebrei,” sê Alisha de Lange, streekorganiseerder van die Wes-Kaap.

“Ons wil eintlik net alzheimer- en demensie-pasiënte help om hul hande en verstand gedurende hierdie tyd besig te hou.”

Mense wat met demensie of alzheimersiekte leef, soek dikwels na iets om aan te peuter. Hulle trek of byt aan hul klere, bal hul vuiste, vryf hul vingers teen mekaar of krap selfs hul arms stukkend. Hulle voel telkemale geïrriteerd of angstig as hulle nie uiting aan hul emosies kan gee nie. Dit is waarom baie van dié mense soms gewelddadig raak.

Vroetelmoue help om hierdie pasiënte se rusteloosheid te tem en voorsien ure se stimulasie en selfs pret.

Vroetelmoue kan gebrei of gehekel word, en allerhande goed word aan die mou vasgewerk sodat pasiënte dan liefs daarmee kan peuter, soos gebreide wurms, krale, knopies, klokkies, lint, spons of selfs net stukkies wol.

Studies by versorgingseenhede wys hierdie soort moue is baie voordelig vir die gemoedstoestand van demensie- en alzheimer-pasiënte.

“Baie van die vrywilligers het familie of vriende wat aan demensie ly of alzheimersiekte het, en hulle verstaan die frustrasie wat sulke mense beleef. Hulle wou graag verligting help bring deur ’n vroetelmou te verskaf,” sê De Lange.

“Ons het ’n geskatte waarde van byna R20 000 se vroetelmoue ontvang, wat op 446 moue te staan gekom het. Hierdie moue is by 15 tehuise in die streek afgelewer.”

Vroetelmoue is egter nie die enigste manier om hierdie pasiënte te sus nie.

“Saam met die vroetelmoue het ons ook heelwat vroetelkomberse ontvang, wat baie gewild is onder die vrywilligers wat dalk nie kan brei nie, maar steeds kreatief wil wees.

“Danksy die publiek se skenkings en die vrywilligers wat die nood raakgesien het, was en is hierdie projek steeds ’n reusesukses.”

As jy nie ’n brei-foendi is nie, maar steeds ’n bydrae wil lewer, kan jy gerus wol by jou naaste Helpende Hand-tak aflaai, ’n vroetelkombers maak of ’n finansiële bydrae aan die projek lewer.

Stuur ’n e-pos-boodskap na alisha@helpendehand.co.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article