Die vragmotor in ligte laaie nadat ‘n petrolbom deur die kajuitvenster gegooi is.

ER24

‘n Langafstand-vragmotorbestuurder is met ernstige brandwonde in die hospitaal nadat sy vragmotor by Touwsrivier met ‘n petrolbom gegooi is.

vragmotor petrolbom bernard groenewald
Bernard Groenewald is met 70%-brandwonde in die hospitaal in Worcester opgeneem.

Die vragmotorbestuurder, Bernard Groenewald, en sy broer het afgetrek om te rus toe die voorval plaasgevind het. Presies wat die motief vir die aanval is, is nog onduidelik, omdat dit tans blyk niks is gesteel nie en die seile van die vragmotor is ook nie stukkend gesny om die vrag te bekom nie.  

Volgens Bernard se vrou, Ciska, het hy ook sy enkel gebreek toe hy uit die kajuit gespring het om die vlamme te ontkom. Die vragmotor is omstreeks 01:30 op die N1 net buite Touwsrivier aan die brand gesteek. Volgens Ciska het hy sowat 70% brandwonde opgedoen en is hy in die hoësorgeenheid van die Mediclinic in Worcester.

Hy was Sondag vroegmiddag na die teater sodat dokters die graad van sy brandwonde kon vasstel. 

‘n Woordvoerder van ER24, Werner Vermaak, sê paramedici het Bernard enkele meters van die trok af gevind. “Die beseerde man en sy broer het afgetrek om te rus. Net een trok is aan die brand gesteek. Terwyl hulle geslaap het, is ‘n petrolbom deur die vragmotor se venster gegooi. Toe die bestuurder uitspring ‘n groep onbekende verdagtes hom gejaag en nog ‘n petrolbom in sy rigting gegooi,” sê Vermaak.

Volgens die polisie word ‘n saak van poging tot moord ondersoek en is sewe verdagtes geïdentifiseer, hoewel niemand nog in hegtenis geneem is nie.  Hierdie is ‘n ontvouende storie en sal bygewerk word soos addisionele inligting bekom word. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article