Die warm weer het sy verskyning gemaak en Worcesteriete sien oudergewoonte daarna uit om weer die plaaslike geriewe te benut om lafenis teen die hitte te kry.
Die Breedevallei-munisipaliteit het onlangs die munisipale swembaddens sowel as die Nekkies-oord weer vir besoekers oopgestel.
Nekkies is sopas opgeknap, wat verseker die geriewe is reg vir die nuwe seisoen.
Dit sluit in die opgradering van die pomphuis asook ’n splinternuwe pomp, ’n nuwe filtreerstelsel en nuwe vlinder-kleppe.
Marcellus Williams, wat al langer as twee dekades by Nekkies werk, sê die filtreertenks het ’n inhoudsmaat van 3 000 liter. Hy sê ook die swembaddens is afgeskuur en het ’n nuwe laag veselverf gekry. Een van die belangrikste komponente om die water helder, skoon en blou te hou, is ’n goeie suiweringstelsel, wat ook nuut oorgedoen is.
“Hierdie gewilde kampeerplek het 60 braaiplekke oral in die oord en 13 afdakke met seile oor. Dit maak ook met spoggerige speelruimtes voorsiening vir kinders, wat ’n speelpark asook ’n baba-swembad insluit. Die groot swembad is 1,2 meter diep,” verduidelik Williams.
Kampeerders kan ook visgerei inpak om by die pragtige Brandvlei-dam ’n lyntjie nat te maak.
Marcellus sê wanneer musiekfeeste op Nekkies plaasvind, kan die oord tot 10 000 mense per dag hanteer met al die nodige veiligheidsmaatreëls wat gereed sal wees.
Nekkies is elke dag tussen 08:00 en 18:00 oop vir besoekers.
Nekkies se ingangsfooi:
R34 vir volwassenes
R16 vir kinders onder 6 jaar
R34 per voertuig
“Dit is hierdie tyd van die jaar wanneer inwoners ons swemgeriewe besoek. Nie net trek die Nekkies-oord inwoners van ons omliggende dorpe nie, maar in die feestyd ook mense van verskillende dorpe oral in die Wes-Kaap met busse vol kampeerders wat hierheen kom.”
Die hekke van die swembaddens in De la Batstraat, Greystraat en die nuutgeboude swembad in Zwelethemba is verlede week vir die somerseisoen amptelik geopen.
Die swembaddens se tye is as volg:
Maandae tot Saterdae
10:00 tot 18:00
Sondae
12:00 tot 18:00
Ingangsgeld:
R17 vir volwassenes
R12 vir kinders





