Twee kleuterskole in Worcester is ook geraak ná die breekspul van die voormalige sanger Anthonie Bougas se Kleuterzone-kleuterskoolgroep.
Kleuterskole oor die land heen is hoog en droog gelaat met finansiële verpligtinge wat hulle nie kon nakom nie nadat ‘n voorlopige likwidasie-aansoek op Dinsdag 18 Maart in die hooggeregshof in Pretoria aan beleggers toegestaan is.
Volgens KleuterZone bestaan die groep uit meer as 120 skole.
Sedert Februarie is breëdvoerig berig oor die KleuterZone-groep wat groot opbrengste aan beleggers, wat in bestaande of nuwe skole belê, belowe het. Vrae oor die volhoubaarheid van die KleuterZone-model is gestel, waarna die bom in Februarie gebars het.
Bougas het alle aantygings ontken. Hy is kort daarna landuit en bevind hom volgens berigte tans in Thailand.
Die hooggeregshof het in die aansoek gehoor dat die KleuterZone-groep al die kenmerke van ‘n Ponzi-skema het, waar bestaande beleggers met geld van nuwe beleggers betaal word eerder as met ware inkomste wat genereer is. Sulke skemas skep die drogbeeld dat die onderneming winsgewend is, maar dit stort in duie wanneer nuwe beleggings opdroog.
Verskeie KleuterZone-skole het intussen hul deure gesluit nadat hulle nie uitgawes kon dek en personeel kon
betaal nie. Ander kleuterskole probeer oopbly sodat die kleuters standvastigheid het. Die KleuterZone Worcester in Kerkstraat is genoop om sy deure te sluit. Die skool het vyf mense in diens gehad en na 18 kleuters omgesien. Die Worcester Standard & Breederivier Gazette het by die skool navraag gedoen, maar hulle wou nie kommentaar lewer nie.
“Ons wil net die spanningsvolle tyd agter ons sit,” sê die hoof, Amor Burger.
Nóg ‘n skool, wat in Oktober van hande verwissel het, probeer om kop bo water te hou. “Ons werk hard om die beswil van die kleuters,” sê die hoof, wat gesê het die skoolnaam mag nie genoem word nie.
Die likwidasie-saak word weer op 14 Mei aangehoor.




