Nie minder nie as agt Kersfeeskore verbonde aan die Kaapse Wynland se Kersfeeskore-unie gaan mekaar eerskomende Sondag (23 Februarie) die stryd aansê in die tweede uniale kompetisie wat op die Robertson- sportterrein gehou word.

Hierdie kompetisie gaan die laaste voorbereiding wees vir die kore voor die Suid-Afrikaanse Kersfeeskore-raad se plattelandse korekompetisie op 30 Maart vanjaar in Ceres.

Die kompetisie in Maart gaan gewis ’n grote wees, want altesame 17 Kersfeeskore gaan deelneem.

Die Kersfeeskore wat mekaar eerskomende Sondag in Robertson pak, sluit in die gasheer, Old St. Blues, die Tulbagh Crusaders, die Cerecians, die Star of Hope, die Ceres Crusaders, die Wellington-Kersfeeskoor, The Fleet en die Bella Vista-Kersfeeskoor.

Die Star of Hope-koor, wat die eerste kompetisie gewen het, sal Sondag moet uithaal en wys om sy titel te verdedig.

Die kompetisie begin stiptelik om 10:00.

Toegang by die hek kos R30 vir volwassenes en R20 vir kinders.

Motoriste wat met hul motors toegang tot die perseel wil hê, sal ’n ekstra R10 moet opdok.

Busvervoer sal beskikbaar wees. Die bus vertrek stiptelik om 07:00 van Vallei FM se kantoor in Greystraat.. Bel Heini Heyman by 063 789 7643 om ’n sitplek op die bus te bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article