Al die veld is vrolik en saam met die koms van lente is daar die opwinding van nuwe dinge in die lug.
Lente in die Langeberg-Breederivier-streek word vanjaar gekenmerk deur ‘n merkwaardige musiekgeleentheid wat binnekort in Robertson plaasvind. Mense én donkies gaan baat vind by ‘n fees van ligte klassieke musiek, wat aanstaande Sondag (14 September) om 15:00 deur die bekende Kaapstadse Filharmoniese Orkes in die Oos-Kerk aangebied word.
Die Eseltjiesrus Donkey Sanctuary bied die konsert Musiek vir Almal aan as ‘n positiewe krag wat mense in hierdie uitdagende tye byeenbring.
Afrika se oudste en waarskynlik mees bekende simfonie-ensemble tree op met passie, talent en ‘n intense verbintenis met die musiek. Die geleentheid is nie net ‘n konsert nie, maar ‘n onvergeetlike ervaring.
Kaartjies kan aanlyn gekoop word by adopt@donkeysanctuary.co.za of op die konsertdag (van 14:15 af) by die deur van die Oos-kerk in Robertson. Teen slegs R180 vir volwassenes en R90 vir studente is dit ‘n belegging in ‘n onvergeetlike middag.
Die ouditorium by die kerk bied uitstekende akoestiek en goeie sig uit alle sitplekke.
Die konsertprogram sal gewis wye aanvaarding geniet.
Gunstelinge soos die Blommewals van Tchaikovsky en Offenbach se Can-Can sal vermaak, asook die keur van komponiste soos Grieg, Rossini, Smetana en Saint-Saëns. Van besondere belang sal ‘n keurspel wees om erkenning te gee aan die beskermheer van Eseltjiesrus, die alombeminde David Kramer.
Kom geniet Musiek vir almal en help om ‘n positiewe invloed te hê – alle opbrengste sal die noodsaaklike donkiewelsynwerk van Eseltjiesrus naby McGregor ondersteun.
• Kontak Johan by 083 429 3217 vir enige navrae.


