Jaag jou drome na – al weet jy nie presies hoe dinge op die ou einde gaan uitwerk nie. Dit is presies hoe Janco Nel voel.

Nadat hy bestuursrekeningkunde aan die Universiteit van Stellenbosch studeer het, het dié Worcesteriet sy plek voor én agter die kamera gevind.

“In my matriekjaar moes ek ‘n baie moeilike besluit maak en het bestuurs- rekeningkunde gaan studeer, hoewel ek baie lief was vir drama,” vertel Nel oor ‘n koppie koffie.

Sy eerste blootstelling aan die verhoog was reeds voor laerskool, danksy Worcester Gimnasium se musiekblyspele en dramas. Sy passie vir die kunste het as leerder by dié skool, waar sy ma Elsabé Nel ook ‘n drama-onnie is, gegroei.

Deesdae werk Nel saam met bekendes in die vermaaklikheidsbedryf – as akteur voor die kameras en agter die skerms by die vervaardigingsmaatskappy Scene 23.

“Ek het gedurende my studies besef ek mis dit baie om op te tree. Ek het ‘n deeltydse geleentheid by Kunstekaap gekry om die rol van Corny Collins in Hairspray The Musical as plaasvervanger-akteur te vertolk. Dit was harde werk en ek het baie gebid om my studies saam met die voorbereiding vir díe rol te balanseer. Dit was ‘n ervaring wat ek vir niks sal verruil nie. Ek sal altyd die ondersteuning van Worcester se gemeenskap in daardie tyd onthou,” sê hy.

Ná sy universiteitsdae het hy in 2021 vir ‘n jaar lank musiekteater by die Luitingh Alexander Musical Theatre Academy (Lamta) in Kaapstad studeer.

“Dit het net ná Covid gelyk asof die kunste dood is. Ek was weer voor ‘n kruispad en met studieskuld om af te betaal, het ek aanlyn in die handelsbedryf begin werk. Ek was dankbaar vir die kwalifikasie wat ek gehad het.”

Nel het besef dat die vermaaklikheidsbedryf baie mededingend is – veral vir ‘n nuweling – en dat hy sy eie geleenthede sal moet skep.

“Ek het na onder andere Charlize Theron gekyk en het verras besef – genugtig, die mense vervaardig baie van die werk waarin hulle self speel. Hoekom meng ek nie net my belangstelling in sake met my liefde vir die kunste en word ook ‘n vervaardiger nie?”

Nel het met die SAFTA-bekroonde vervaardiger en sakeman Cobus van der Berg kennis gemaak en die geleentheid gekry om saam te werk aan onder meer die kykNET-reeks Plan B en die Netflix-rolprent Heart of the Hunter, wat gegrond is op boeke deur die bekende Deon Meyer. Heart of the Hunter het onlangs geskiedenis gemaak deur die eerste Afrika-rolprent te word om vir twee weke ná mekaar die nommer-een-plek op Netflix se Engelse top10-ranglys internasionaal te behaal.

Nel maak egter steeds staat op sy rekeningkunde-kwalifikasie en help om Van der Berg se gastehuise in Oudtshoorn en Hoedspruit te bestuur.

Hy brand die kers aan albei kante en het sy televisiebuiging vanjaar met die rol van Louis Pringle in die kykNET-drama Die Nuusmakers gemaak. Hy vertolk ook die rol van ‘n skoolseun in die verhoogstuk Om skoon te wees, wat met ‘n kykNET-Fiësta- en Kanna-toekenning bekroon is. Vir dié produksie is sy tasse reeds gepak om dit by die Vrystaat-kunstefees in Julie op die planke te bring.

“Drome is nie net iets vir wanneer jy in jou twintigs is nie – as dit God se wil is, kan ‘n mens nog leef tot honderd! Ek dink nie ‘n mens moet ophou droom nie, al jaag jy jou drome stelselmatig na. Die lewe is ‘n reis, nie ‘n resies nie. Wees doelbewus en doen elke dag iets wat jou nader aan daardie droom bring,” deel Nel sy stukkie wysheid en sê hy is opgewonde oor die moontlikhede in die plaaslike vermaaklikheidsbedryf.

Janco Nel (voor) saam met die akteur Conradie van Heerden in die Kanna- en kykNET-Fiësta-bekroonde verhoogstuk Om skoon te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article