Beoordelaars in die Internasionale Wyn-en-Spiritualieë-kompetisie het aan wyne van meer as 34 lande geproe om die bestes te kies. Foto: IWSC

Plaaslike wyne rol steeds gemaklik oor die tonge van internasionale beoordelaars, met verskeie wynplase in die Breedevallei en Langeberg wat uitstekende punte by die Internasionale Wyn-en-Spiritualieë-kompetisie (IWSC) verwerf het.

Die uitslae is verlede Woensdag (2 Julie) bekend gemaak. Volgens die IWSC het vanjaar se kompetisie die gehalte, karakter en selfvertroue van Suid-Afrikaanse wynvervaardiging belig.

Suid-Afrika het altesaam 23 goue medaljes, 225 silwer- en 266 bronsmedaljes verower. “Hierdie medaljes bevestig nie net tegniese uitstekendheid nie, maar ook groeiende selfvertroue in styl en uitdrukking onder Suid-Afrikaanse vervaardigers,” het die beoordelaars gesê.

Hulle het na wyne van 34 lande reg oor Europa, Afrika, Noord- en Suid-Amerika, Asië en Oseanië gekyk. Slegs 2% van die wyne is met ‘n goue medalje van IWSC beloon, wat op hul uitsonderlike gehalte dui.

Vier wynplase in die Breedevallei- en Langeberg-omgewing het met goue medaljes weggestap. Graham Beck in Robertson se Cuvee Clive, ‘n versnit van chardonnay en pinot noir, het 97 punte verwerf, met sy Blanc de Blanc wat 96 punte gekry het.

Die Du Toitkloof-wyne in Rawsonville se Old Vine Chenin Blanc 2024 is ook met 96 punte beloon terwyl Robertson se Zandvliet met hul Zandvliet Shiraz en Windfall-wynplaas se Mendola Blanc de Blanc elk 95 punte gekry het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article