Die drie mans wat in hegtenis geneem is nadat ’n vrou van Hexpark onlangs na bewering aangerand en amper verkrag is, is steeds in aanhouding nadat hulle self hul borgtogaansoek tydens die hofsitting Woensdag 9 November laat vaar het.

Die drie beskuldigdes – Mario Mampa (35), Christopher Prins (22) en Josep February (30) – staan tereg op vyf aanklagte, waaronder roof, seksuele teistering, menseroof, aanranding met die opset om ernstig te beseer en sameswering tot poging tot verkragting.


Standard het onlangs berig oor ’n voorval waarin die 32-jarige Laurinda Morris buite haar ouerhuis na bewering deur die drie mans oorval en beroof is voordat hulle gedreig het om aller­hande grudade op haar uit te voer.

“My kêrel het my Maandag 17 Oktober net ná middernag by my ouerhuis afgelaai. Ons het gestry en ek wou net by my huis wees.

“Ek het buite in die straat gewag, aangesien my pa die hek in die aand sluit en ek het gehoop iemand sal kom oopsluit. Minute later is ek amper deur drie mans in ’n veld verkrag,” sê ’n emosionele Morris.

Sy sê een van die mans het haar genader en die ander twee het vanuit nêrens gekom.

“Hulle het my gegryp en my betas. Hulle het R1 000 by my gevat, en ook my selfoon, wat alles in my borste weggesteek was. Ek het geskree. Ek het gehuil. Al wat ek kon doen, was om hulle te probeer byt en geraas te maak,” vertel sy verder.

Nadat hulle haar na bewering bykans verkrag het en haar beroof en mishandel het, het ’n inwoner van die buurt tot haar redding gekom.

Die drie beskuldigdes is ure later in hegtenis geneem nadat die polisie en gemeenskap van Hexpark kragte saamgespan het.

Intussen het Morris vertel hoe sy onlangs buite die hofgebou deur familielede van die beskuldigdes geteister en name toegesnou is.

In ’n skokwending het die drie beskuldigdes tydens die laaste hofsitting besluit om eerder hul borgtogaansoek te laat vaar. Dit beteken egter dat die hof hulle in aanhouding sal laat hou totdat die hof besluit om tot verhoor te gaan.

Hulle moet weer Donderdag 29 November in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article